Jacques Nienaber is in die binnebaan om as die Springbok-hoofafrigter aangestel te word.

Rassie Erasmus het ná Suid-Afrika se asemrowende oorwinning van 32-12 oor Engeland in Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd in Jokohama afstand van die pos gedoen, maar sal as SA Rugby se direkteur van rugby steeds in beheer van Bok-rugby bly.

Nienaber se verantwoordelikhede sal uitbrei as sy aanstelling wel later bevestig word. Erasmus kan terselfdertyd plek vir iemand soos Deon Davids in die Bokke se bestuurspan maak.

Nienaber is een van die Bokke se hulpafrigters. Hy is in beheer van die Suid-Afrikaners se verdediging, ’n afdeling wat ’n reusebydrae in die Bokke se suksesvolle Wêreldbeker-veldtog gespeel het.

Duane Vermeulen

Die Bokke is deur baie as die span met die voorste verdedigingstelsel in die Wêreldbeker beskou.

“Jacques is ’n fantastiese mens,” sê Duane Vermeulen.

Die Bok-agtsteman wat as die Speler van die Wedstryd teen Engeland aangewys is, is ná die eindstryd deur ’n internasionale rugbyskrywer oor Nienaber se moontlike toekomstige rol uitgevra.

“Toe ek hom die eerste keer ontmoet het, was hy nog ’n fisioterapeut. Nou is hy ’n verdedigingsafrigter. Hy het al soveel dinge aan die spelers oorgedra.

“Hy is ’n goeie persoon om oor te neem, hoewel ek werklik nie weet wie dit sal wees nie.

“Dit is lekker om te sien dat iemand wat deel van die bestuurspan is, indien dit hy is, daardie volgende stap sal neem. Hy verstaan op watter wyse ons wil speel en vorentoe wil beweeg.”

Erasmus en Nienaber se paaie het destyds as soldate in hul weermagdae in Bloemfontein gekruis.

Hul vriendskap het in hul studentedae gegroei toe Nienaber die fisioterapeut van die Shimlas en Erasmus die kaptein was.

Nienaber se kennis van die spel en duidelikheid oor sy visie het Erasmus beïndruk toe hy destyds in Bloemfontein vir behandeling op die fisioterapeut-bed moes lê.

Erasmus het, toe hy in 2005 die Cheetahs se hoofafrigter ná Peet Kleynhans se uittrede word, Nienaber dadelik as sy fiksheidafrigter aangestel.

Sy passie, kennis en werketiek rondom verdediging was toe reeds sigbaar.
Rassie Erasmus

“Sy passie, kennis en werketiek rondom verdediging was toe reeds sigbaar,” het Erasmus vroeër tydens die WB-toernooi gesê.

“Hy is baie goed met mense en in die wyse hoe hy sy boodskap oordra wat hy wil hê. Hy dra die boodskap briljant oor.”

Ná hul Vrystaat-dae is Nienaber saam met Erasmus na die Stormers, Munster en saam terug uit Ierland na die Bokke.

Rassie Erasmus op die Springbokke se laaste mediakonferensie voor Saterdag se eindstryd tussen Suid-Afrika en Engeland. Foto: Getty Images

Nienaber bly egter diep in sy hart soos sy vrou, Elmarie, steeds ’n fisioterapeut.

“Ek en Rassie is al so lank vriende dat wanneer daar ’n rugbybesluit is ons kan verskil en vir mekaar kwaad raak, maar dit raak nooit persoonlik nie.

“Dis altyd in die belang van die span,” het Nienaber vroeër in Tokio gesê.

“Ons het in terme daarvan ’n goeie verhouding om aan die een kant vriende te wees, maar Rassie bly my baas.”

Ons het in terme daarvan ’n goeie verhouding om aan die een kant vriende te wees, maar Rassie bly my baas.
Jacques Nienaber

Erasmus kan afgesien daarvan om Nienaber bevordering te gee, Davids by die nasionale span betrek.

Davids het vroeër vanjaar as die hoofafrigter van die Kings bedank. Dit was insiggewend dat hy nie sedertdien ander poste aanvaar het nie.

Dis algemeen bekend dat die Bokke se huidige voorspelerafrigter, Matt Proudfoot, se vierjaarkontrak ná die Wêreldbeker verstryk.

In ’n ongewone stap is hy Saterdagaand ná die eindstryd saam met van die spelers na onderhoude met die internasionale media gestuur.

Dit was die eerste keer tydens die Wêreldbeker dat ’n Suid-Afrikaanse afrigter van daardie onderhoude bywoon, wat ’n aanduiding mag wees dat hy dalk klaarmaak.

Proudfoot is vroeër deur Allister Coetzee betrek en was die enigste oorblywende lid van die vorige afrigtingspan wat deel van Erasmus s’n gebly het.