Die Springbokke het ná ’n droomjaar die belangrikste eerbewyse ingepalm toe Wêreldrugby Sondag sy sterre van die jaar in Tokio vereer het.

Rassie Erasmus is as die Afrigter van die Jaar aangewys nadat sy span die Wêreldbeker en Rugbykampioenskap gewen het, die Bokke is as die Span van die Jaar vereer en Pieter-Steph du Toit is as die Speler van die Jaar bekroon.

Erasmus volg in die voetspore van Jake White, wat in 2004 en 2007 as Wêreldrugby se Afrigter van die Jaar aangewys is.

“Dis wonderlik om die eerbewys te wen en ’n voorreg dat my naam tussen benoemdes soos Steve Hansen (van Nieu-Seeland) en Eddie Jones (van Engeland) s’n tel,” het Erasmus gesê.

“Ons wil nou Nieu-Seeland nadoen wat bestendigheid betref. Hulle het die afgelope sowat 12 jaar die voorbeeld daarmee gestel.

“As jy ons gevra het oor ons kans om die Wêreldbeker te wen, sou dit nie meer as 50% gewees het nie.

“Ek is baie trots op hoe ons afrigters die uitdagings vanjaar aangepak het.”

Die Bokke, wat weer die eerste plek op die wêreldranglys beklee nadat hulle Engeland met 32-12 in Saterdag se eindstryd in Jokohama geklop het, is ook in 2009, 2007 en 2004 as die Span van die Jaar vereer.

“Met tye was dit baie taai en is groot tellings teen ons behaal. Daar was tye wat die stadions selfs leeg was, iets waaraan ons as Bokke nie gewoond is nie,” het Siya Kolisi gesê toe hy die eerbewys namens sy span ontvang het.

“Toe kom Rassie en ons almal het dadelik by sy plan ingekoop. Hy het ons van die eerste dag toe hy ingestap het laat glo dis moontlik.

“Ons het vir mekaar geveg. Ek speel saam met verskeie van my helde in die Bok-span.”

Bryan Habana in 2007 en Schalk Burger in 2004 is die ander Suid-Afrikaners wat voorheen die eer as Speler van die Jaar soos Du Toit te beurt geval het.

“Ek wil God eerstens bedank dat hy my die geleentheid gee om die spel rugby te speel,” het Du Toit gesê.

“Ek het die eerbewys aan my spanmaats en afrigters te danke. Die Bokke beteken soveel vir my, woorde kan dit nie beskryf nie.

“Ek mis Suid-Afrika en kan nie wag om weer by die huis te kom nie.”

Die Bokke se statistieke in die Wêreldbeker spreek boekdele en dit verbaas nie dat hulle die eerbewyse in Tokio ingeryg het nie.

Hulle het byvoorbeeld net een lynstaanbal uit 69 ingooie in die Wêreldbeker verloor en 15 van hul teenstanders s’n afgeneem.

Die 14 strafskoppe wat hulle by skrums afgedwing het, is die beste in die toernooi.

Wat verdediging aanbetref het die Suid-Afrikaners gemiddeld 0.6 drieë per toets in Japan afgestaan. Dis ’n vername rede is waarom hulle vanjaar die Wêreldbeker kon wen.

Van die belangrikste ander eerbewyse wat vandag in Tokio toegeken is, is Frankryk se Romain Ntamack as die Deurbraak-speler van die Jaar aangewys. Die Bokke se Herschel Jantjies was in die afdeling benoem.

Jerry Tuwai van Fidji is as die Sewesspeler van die Jaar aangewys en die All Black TJ Perena s’n as die Drie van die Jaar.

Cobus Reinach van die Bokke se drie teen Kanada was ook benoem.

Wayne Barnes van Engeland is 2019 se Skeidsregter van die Jaar.

* Nog ’n grote van Suid-Afrikaanse rugby, Os du Randt, is vandag in die heldesaal van Wêreldrugby ingehuldig — die enigste speler wat ’n Wêreldbeker as ’n amateur- én beroepspeler in onderskeidelik 1995 en 2007 gewen het.

Du Randt was nie self teenwoordig nie, maar John Smit het sy spesiale pet namens hom ontvang.

“Os het ons geleer wat dit beteken om ’n Bok te wees,” het Smit gesê.

“Elke keer as ons gesien het Os maak sy skoenveters in die kleedkamer vas, het ons geweet ons sal oraait wees.”