Nog ’n wedstryd in die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan kan afgestel word uit vrees dat die super-tifoon Hagibis mense se lewens in gevaar kan stel.

Hagibis

Die organiseerders van die Wêreldbekertoernooi sê in ’n verklaring hulle is bewus daarvan dat die tifoon die omgewing van Kamaisji, waar Namibië en Kanada Sondag moet kragte meet, die oggend sal tref.

Die twee spanne is reeds in kennis gestel dat die situasie dopgehou word en dat die wedstryd gekanselleer kan word.

Ondersteuners wat nog nie in Kamaisji is nie, word afgeraai om na die omgewing te reis voordat daar nie meer duidelikheid is oor of die wedstryd voortgaan of nie.

’n Speler van die Japanse nasionale rugbyspan indie Chichibunomija-stadion in Tokio.Foto: Skermgreep/JRFU via REUTERS
Spelers van die Japanse rugbyspan probeer deur die water spring by die Chichibunomija-stadion in Tokio.Foto: JRFU via REUTERS
Die strate is Saterdag leeg in Yokohama in Japan waar mense skuil teen die aanslag van die tifoon Hagibis.Foto: REUTERS/Matthew Childs
Gesinslede loop oor die pad in Suzuka in Japan voordat die tifoon die omgewing tref. Foto: REUTERS/Soe Zeya Tun

Reuters berig intussen een man is dood en 60 mense beseer in Tokio toe meer as 6 miljoen mense aangeraai is om die gebiede te verlaat wat in die pad is van die tifoon. Die man is dood toe die voertuig waarin hy was omgeslaan het.

Die tifoon is die ergste wat Tokio in die afgelope 60 jaar getref het.

Saterdagaand (Japanse tyd) is die eiland Honsjoe getref en rivierwalle het oorstroom.

Daar is reeds 939,5 mm reën in ’n tydperk van 24 uur in die vakansiedorp Hakone gemeet.

Die Japanse meteorologiese agentskap het ’n waarskuwing van die hoogste vlak uitgestuur vir 12 streke, insluitend Tokio, en het genoem dat ’n tifoon van dié sterkte een keer in dekades voorkom.

Lughawens is reeds gesluit en meer as 1 000 vlugte is gekanselleer. Treindienste is ook afgelas. 

Vyf mense is beseer toe die dakke van geboue afgewaai het en verskeie mense is soek nadat hulle in ’n modderstorting in ’n dorp naby Tokio meegesleur is.

Kenners waarsku teen moontlike oorstromings in Tokio omdat dié stad laer is as die seevlak.

Daar is ook reeds 150 000 huishoudings sonder elektrisiteit en winkels asook sakeondernemings is gesluit.

Die oefenronde vir die Grand Prix is ook afgelas.

Bronnehttps://www.rugbyworldcup.com/update; Reuters