Alle Suid-Afrikaners moet in aanloop tot Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland daarop fokus om bankvas agter die Springbokke te staan en nie op beweringe van rassisme teen enige lid van dié nasionale rugbyspan nie, sê Jackson Mthembu, minister in die presidensie.

Mthembu het dit Donderdag by die parlement gesê nadat hy ’n boodskap van gelukwensing namens die kabinet aan die Springbok-span tydens ’n nuuskonferensie oor Woensdag se kabinetsvergadering oorgedra het.

Pres. Cyril Ramaphosa is ook op pad na Japan waar hy Saterdag se eindstryd sal bywoon.

Jackson Mthembu wys Donderdag sy ondersteuning vir die Springbokke. Foto: Llewellyn Prince

’n Joernalis wou Donderdag egter by Mthembu weet watter boodskap Suid-Afrika na buite stuur terwyl daar “ ’n donker wolk oor ’n lid van daardie span hang”.

“Sê die feit dat ons in die eindstryd meeding dat van die ernstige bewerings van rassisme teen ’n senior lid van die Springbok-span goedgekeur word, al is dit nog net beweringe teen die persoon?”

Die joernalis het nie enige Springbok-speler se naam genoem nie, maar daar is wyd berig oor beweringe van rassisme teen die Springbok-slot Eben Etzebeth. Daar is ook sake hangende nadat klaers van Langebaan hom daarvan beskuldig dat hy en ’n groep ander mans hulle in Augustus in Langebaan na bewering aangerand en rassistiese uitlatings teenoor hulle gemaak het. Etzebeth ontken dit.

Die Menseregtekommissie het ’n klag van haatspraak teen Etzebeth by die gelykheidshof ingedien.

Etzebeth het op sy beurt ’n aansoek by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien om onder meer die saak in die gelykheidshof tersyde te stel.

Mthembu het op die joernalis se vraag gesê die kabinet bespreek nie beweringe nie.

Volgens hom ondersteun die kabinet die Springbokke ten volle.

“Ons is in die eindstryd. Hulle het baie goed gespeel teen Wallis om te kom waar hulle is. Hulle gaan nou teen Engeland speel. Dít is waarop alle Suid-Afrikaners nou moet fokus. Om die Bokke te ondersteun.”

Mthembu sê enige beweringe van enige misdaad moet daarom in die hande van die bekwame en geloofwaardige strafregstelsel gelaat word.

Hy sê die regering keur nie enige rassistiese gedrag deur enigiemand goed nie, ongeag wie die persoon is.

“Daarom sê ons dat enigiemand teen wie beskuldigings van enige rassistiese uitlatings of gedrag gemaak word, moet teen opgetree word.”

Ons boodskap aan die Springbokke moet nou wees dat die hele Suid-Afrika, insluitende die regering van pres. Cyril Matamela Ramaphosa, agter hulle staan.

Hy meen egter alle Suid-Afrikaners moet vir nou “hande vashou en sê: ‘Bring dit terug huis toe, Bokke!’”

“Dit moet die boodskap wees. Nie enigiets anders nie. Ons boodskap aan die Springbokke moet nou wees dat die hele Suid-Afrika, insluitende die regering van pres. Cyril Matamela Ramaphosa, agter hulle staan.

“Om konkrete betekenis aan hierdie ondersteuning te gee, sal die president Saterdag op die paviljoen wees om die Bokke namens Suid-Afrika te ondersteun.”

Volgens Mthembu sal alle ander Suid-Afrikaners Saterdag egter ook vasgenael voor hul televisieskerms sit. “Dit is waarom die SAUK besluit het om die wedstryd regstreeks uit te saai.”

Mthembu sê hy verstaan die joernalis se punt, maar dat dit binne die strafregstelsel hanteer moet word.

“Vir nou is ons net bly die Springbokke is in die eindstryd en ek is vol vertroue dat ons die Wêreldbeker-trofee huis toe sal bring. So laat ons almal agter die Bokke staan.”