Engeland se verdediging in die eerste 20 minute van sy kwarteindstryd teen Australië in die Wêreldbeker-rugbytoernooi het die grondslag vir sy oorwinning gelê, sê die Engelse se afrigter, Eddie Jones.

Dit nadat Engeland vier drieë gedruk het om die Wallabies Saterdag met 40-16 in Oita, Japan, te klop. Maar in daardie eerste kwart van die wedstryd het die Aussies balbesit oorheers en in Engeland se helfte van die veld geboer. Twee blitsige drieë kort ná mekaar deur die Engelse vleuel Jonny May, het egter die gety gedraai.

“Op die verdediging, veral in die eerste 20 minute, moes ons omtrent uithaal en wys,” het Jones ná die kragmeting op die mediakonferensie gesê.

“Hulle (die Aussies) het 70% van die balbesit gehad en ook gebiedsvoordeel gehad, so dit (Engeland se verdediging) was ’n belangrike aspek van die wedstryd.

“Ons het vasgebyt, ’n bietjie momentum gekry en die geleenthede gebruik wat na ons kant toe gekom het,” het Jones gesê.

Die wenkbroue het omtrent vooraf gelig toe Jones vir George Ford op die plaasvervangersbank gekies het met Owen Farrell in die nr.10-trui.

Ek dink George Ford was uitstekend toe hy opgekom het – hy het Australië laat rondhardloop toe ons dit wou gehad het.
Eddie Jones

Dit het beteken dat Manu Tuilagi en Henry Slade die middelveld beman het – maar Jones het raakgevat met dié besluit.

“Ons is tevrede met die keuse van 10, 12 en 13,” het hy met ’n glimlag gesê. “Hulle het vroeg in die wedstryd baie werk op die verdediging gedoen, soos wat ons vooraf verwag het die geval sou wees.

“Ek dink George Ford was uitstekend toe hy opgekom het – hy het Australië laat rondhardloop toe ons dit wou gehad het,” het Jones gesê.

May, wat in sy 50ste toets gespeel het, het skitterend vertoon.

“Daar is waarskynlik nie ’n meer professionele speler as hy (May) nie,” het Jones gesê.

Slade het ook goed vertoon, terwyl die kaptein, Farrell, waarskynlik sy beste wedstryd nog van die toernooi gespeel het. Volgens Jones het sy span karakter gewys toe die Aussies kort ná rustyd hul agterstand tot slegs een punt laat krimp het.

Eddie Jones, afrigter van Engeland. Foto: Getty Images

Farrell sê sy span het toe onder die pale ’n kringetjie gemaak en gepraat oor wat hulle volgende gaan doen.

“Ons wou die wedstryd teen ons pas speel, nie hulle s’n nie, en genadiglik het ons presies dit in die tweede helfte gedoen.”

Engeland kom nou Saterdag in die halfeind in Jokohama te staan teen die All Blacks, wat Ierland met 46-14 geklop het. En Jones het gewaarsku dat sy span nog beter sal moet speel.

“Ons het steeds nie ons beste vertoning gelewer nie, en die uitdaging is hoe ons volgende week kan verbeter.

“Die halfeind is waarskynlik die moeilikste wedstryd van die toernooi – twee spanne wat desperaat is om die eindstryd te haal en in die proses alles uithaal,” het Jones gesê. – Reuters