Ná die reuse teleurstelling en ontevredenheid wat die Springbok-rugbyspan se oorwinningsparade Sondag in Port Elizabeth veroorsaak het, eis die Oostelike Provinsie-rugbyunie (Opru) nou dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) die parade moet terugbring na dié stad en moet kom voltooi, al is dit met ’n derde van die spelers.

Duisende aanhangers wat Sondag ure lank in Port Elizabeth se noordelike voorstede en by die bekende vierrigtingkruising in Uitenhage gestaan en wag het, is teleurgestel toe die bus nie soos beplan by hulle verbygekom het nie.

Sommige van dié aanhangers het al die aand tevore tente opgeslaan langs die pad. Talle jong seuntjies het in trane uitgebars toe hulle besef hul helde kom nie.

In Helenvale is die polisie ingeroep toe inwoners buitebande aan die brand begin steek en verbygaande motors met klippe bestook.

André Rademan, Opru se president, het Maandag gesê hulle wil dit duidelik maak dat die skuld vir dié reuseflater nie voor hul deur geplaas kan word nie, want hulle het geen sê gehad oor die beplanning nie.

Rademan sê hy is ook bitter teleurgesteld oor wat gebeur het. Hy het die duisende aanhangers se teleurstelling reeds aan Saru oorgedra.

Volgens Rademan is dit hoog tyd dat mense moet begin besef Opru is die bewaarders van rugby in die Oos-Kaap en dat die unie as sulks so behandel moet word. Die unie moet meer direk by die beplanning betrek word en nie na die kantlyn geskuif word as dit by rugbysake kom nie.

“Die grootste probleem hier is dat die beplanning beter gedoen kon gewees het. Die rolspelers was Saru en die Nelson Mandelabaai-metroraad. Die unie kan nie verantwoordelikheid aanvaar vir iets waarvan hulle nie in beheer was nie.”

Thando Manana, Opru se bestuurshoof, sê hulle eis ’n “verskoningstoer” vir die duisende aanhangers se harte wat gebreek is omdat hulle nie hul helde te siene gekry het nie.

Hy voel Saru moet die toer kom voltooi, al beweeg die bus net in die gebiede waar hulle nie kon uitkom nie.

“Daar moet dringend gekyk word na ’n oplossing en hoe om die situasie te beredder. Ons gee Saru sewe dae kans om op ons eise en voorstelle te reageer,” sê hy.

Opru het gereageer nadat Christian Martin, ’n aktivis vir die welstand van inwoners in die noordelike voorstede, die hekke van die unie se kantore kom sluit het om so antwoorde te eis.