Toeskouers en TV-kykers wêreldwyd kan Vrydag uitsien na ’n eg Japanse openingseremonie vir die Wêreldbeker-toernooi.

Volgens Wêreldrugby sal die openingseremonie Japan se antieke geskiedenis met die moderne kombineer. “Dit sal inspirasie put uit die diep simboliek van Japanse kultuur en die passie, verwagtinge en opwinding wat Japannese vir die toernooi koester.”

Die negende WB-toernooi begin Vrydag – die eerste keer in Asië. Japan se Brave Blossoms skop om 19:45 (Japanse tyd, 12:45 SA tyd) sy tuistoernooi af met ’n wedstryd teen Rusland in Tokio.

Die kragmeting sal voorafgegaan word deur die openingseremonie, wat die tema sal hê van ’n Japanse fees.

Bill Beaumont, voorsitter van Wêreldrugby, sê die wag is verby. “Die tafel is gedek vir wat beloof om ’n spesiale WB-toernooi te wees.”

Akira Shimazu, uitvoerende hoof van die reëlingskomitee, sê die boodskap van die openingseremonie is dat verhoudinge deur sport gebou word.

“Sport help bou beter verstandhoudings en vriendskap deur mense van alle lande te inspireer dat ’n blink, positiewe toekoms moontlik is.

“Rugby het die mag om te verenig deur sy etos van respek en inklusiwiteit. Ons hoop die toernooi sal daarin slaag,” sê Shimazu.

Die program sal begin met ’n verbyvlug deur Blue Impulse, die kunsvliegspan van die Japanse lugmag. Verskeie vertonings deur kunstenaars sal daarna volg.

  • TV: Vrydag om 11:30 op SS 1 en GDN.
  • Volg ook ’n regstreekse blog oor die openingseremonie op Netwerk24.