Ou rugbywonde tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland is onlangs weer oopgekrap in ’n boek wat in Kiwiland verskyn het.

Daarom gaan daar Saterdag weer met valkoë gekyk word na die Springbokke en die All Blacks wanneer hulle in Japan, vir hul Wêreldbeker-wedstryd, op die veld draf.

Onder die opskrif “Die mees gehate All Black in Suid-Afrika” het Die Burger onlangs ’n artikel gepubliseer oor die omstrede Kevin Skinner, wat gehelp het dat die All Blacks die Springbokke in 1956 ’n behoorlike pak slae in die toetsreeks gegee het. Waaroor veral getwis word, is die wyse waarop Skinner, stut en amateur-bokskampioen, sy vuiste gebruik het om die Springbok-voorry “sag” te maak.

Die rugbygeskiedkundige Paul Dobson het in een van sy boeke na Skinner as “die Al Capone” van rugby verwys. Die destydse SA rugbybaas Danie Craven het verklaar dat as daar een man is wat nie in Suid-Afrika welkom is nie, is dit Skinner.

In die Nieu-Seelandse boek Behind The Silver Fern (The Players Speak)* word nie net na die berugte Skinner-voorval nie, maar ook na talle voorvalle van vuil en gemene spel deur onder andere die Springbokke verwys.

Die boek wat die All Blacks se weergawe van ’n klompie berugte oomblikke in hul rugbygeskiedenis vertel.

Dit bevat beskrywings, menings en aanhalings meestal deur All Blacks oor wat hulle in hul loopbane op die veld teen ander rugbyspelende lande ervaar het. Soos gewoonlik is daar mos twee kante van ’n storie, en in hierdie publikasie stel die All Blacks hul saak.

Daar word byvoorbeeld onthul dat Skinner oorreed is om hom vir die derde toets van die 1956-reeks beskikbaar te stel omdat ’n Springbok die All Black-voorryman Frank McAtamney in die vorige toets (tweede in die reeks van vier) aan die hand gebyt het.

Nadat die Bokke die tweede toets gewen het om die reekstelling 1-1 te maak, het ’n sekere Kiwi opdrag van die Nieu-Seelandse keurders gekry om met Skinner te gaan praat.

Toe hierdie man hom vertel dat McAtamney in die vorige toets gebyt is, het Skinner gesê: “Is dit werklik so?” Hy het daar en dan besluit hy sal beskikbaar wees.

Skinner vertel verder wat gebeur het: “Daar was hoegenaamd geen instruksies nie. Ek het opgedraf om rugby te speel en het gehoop dat hulle (die Springbokke) dieselfde wou doen.

“Wat ek in 1956 gedoen het, was om eenvoudig vir my regte op te kom. Die Bokke het gedink hulle kon met sekere ongerymdhede wegkom, en indien ons hulle toegelaat het om daarmee voort te gaan, was hul stryd halfpad gewonne.

“Ons het besluit dat ons geen intimidasie deur die Bokke gaan duld nie. Die All Blacks het selfvertroue verloor en ek dink ons het net besluit om dit weer op koers te kry.

“Onthou, ek het die voorsprong gehad deurdat ek in 1949 teen hulle gespeel het. Ek was bewus van die taktiek wat hulle gebruik en ek sou dit nie duld nie. Dit is al waaroor dit gegaan het.

“Ek het my vir Chris Koch in die lynstane vererg. Hy het na ons kant van die lynstaan deurgebars en ons bal daar vertraag. Ek het hom gewaarsku om dit nie weer te doen nie; hy het volhard daarmee en ek het hom ’n oorveeg gegee.

“Dit was so eenvoudig soos dit. As jy iemand reg voor die skeidsregter ’n klap gee, dan moet hy mos optree, nie waar nie?

“Die groot probleem was in die lynstane, maar hulle het ook skuins gestoot en ons in ons skrums vasgedruk. Dit is taamlik moeilik vir die skeidsregter om dit raak te sien, maar as dit aan hom uitgewys word, moet hy daarop let.

Kevin Skinner, die bokskampioen wat die Bokke op die veld in die 1956-reeks moes uitsorteer. Foto: Springbok-sage

“Jaap Bekker was ’n groot man, wat jou kon uitput en teen rustyd het ek Ian Clarke (wat teen Bekker gedruk het) gevra hoe dit met hom gaan.

“Ian het gesê hy sal ’n blaaskans verwelkom. Dus het ek gesê ons moet kante ruil sodat ek na Bekker kan omsien.

“Bekker het probeer om my uit die skrum te lig en ek het gesê: ‘Laat staan dit – ons gaan niks daarvan aanvaar nie.’

“Daar was ’n bietjie van ’n gestoeiery, maar dit is gou uitgesorteer .... ek is oortuig daarvan dat my selfbeheersing goed was. Ek is afgerig dat indien jy die stewel in iemand inlê, dan sal ek nie weer kan speel nie. Dit het my rugbyfilosofie geword ... Ek was daar om rugby te speel, en hulle (die Bokke) het dit besef.

“Daarna was daar ’n rukkie geen verdere onsmaaklikhede nie en ons het die spel gespeel soos dit beoefen moet word.

“Die stories hieroor (vuilspel) is nie korrek nie. Ek blameer die verslaggewers. Hulle het goed gesien wat nie gebeur het nie. Mense glo wat hulle lees. Ek was kwaad daaroor omdat ek nie wou dink ek was net daar om ’n hou te slaan nie.

Daar is baie ander manne wat vuishoue kan uitdeel en ek kan jou verseker ek was aan die ontvangkant van ’n billike deel daarvan.

“Daar is baie ander manne wat vuishoue kan uitdeel en ek kan jou verseker ek was aan die ontvangkant van ’n billike deel daarvan.”

Ook in die boek word onthul dat die gesiene Springbok Boy Louw sy vuiste in 1937 aangewend het om Suid-Afrika te help om die tweede toets teen Nieu-Seeland te wen.

Ron Ward, wat ’n All Black-losvoorspeler in daardie toets was, vertel dat die Bokke teen rustyd na ’n verslane span gelyk het nadat Jack Sullivan twee drieë teen hulle gedruk het.

Ná die wedstryd het Louw (Springbok-stut) die volgende aan Ward vertel (Louw het ’n eiesoortige Engels gepraat):

“Everyone had their tails down. I spoke up and said we can still win this game. Skipper Phil Nel said to me: ‘If you think you’re so bloody clever, tell us how’, I said, ‘You fourteen continue to play rugby and I’ll look after things.’

Die voormalige Springbok-kaptein en agtsteman Morné du Plessis word in ’n nuwe Nieu-Seelandse boek daarvan beskuldig dat hy die All Black-skrumskakel Sid Going in 1976 vol in die rug geskop het. Foto: Getty Images

“I said I would crack my opposite prop Doug Dalton because I knew after playing him earlier that if I could upset him he would loose his block. I hit Doug and he did his block. I also told our guys that if he tries to cool down I would hit him again, and I did. That was when we got on top and won the game.”

Robuuste spel was nog altyd ’n kenmerk van mededinging tussen die All Blacks en die Bokke, veral gedurende die Nieu-Seelanders se toer in Suid-Afrika in 1976.

Ian Kirkpatrick, All Black-flank in daardie reeks, vertel dat Morné du Plessis die Nieu-Seelandse skrumskakel Sid Going in die derde toets vol in die rug geskop het.

“Dit was blatante vuilspel en gevaarlik,” is Kirkpatrick se kommentaar oor die Springbok-kaptein. In die volgende toets het Du Plessis Kirkpatrick in ’n lynstaan gestamp. “Normaalweg sou jy ’n man waarsku, maar hierdie keer nie. Ek het hom eenvoudig ’n hou teen die slaap gegee en hy het dadelik inmekaargesak. Ek het vir ’n oomblik gedog ek het hom doodgemaak.”

Ja, rugby in daardie dae was geen sport vir sissies nie. Die mees robuuste Springbok in 1976 was glo Moaner van Heerden, van wie die All Blacks niks gehou het nie.

“Hy sou jou van agter slaan en dan weghardloop,” onthou Kirkpatrick. Maar die All Blacks het hom op die ou end “uitgesorteer”.

Hulle sê egter nie hoe nie.

* Deur Tony Johnson en Lynn McConnell (Polaris Publishing).

* Joubert is ’n voormalige sportjoernalis en oud-hoofredaksielid van Die Burger.