Die voormalige All Black-kaptein Zinzan Brooke bekommer hom reeds oor ’n Wêreldbeker-halfeindstryd teen Engeland, al het die Kiwi’s nog nie eens met die gevaarlike Ierland in Saterdag se kwarteindstryd afgereken nie.

Zinzan Brooke kyk reeds verby die All Blacks se wedstryd Saterdag teen Ierland. Foto: Getty Images

Die Iere het die All Blacks in twee van die spanne se laaste drie toetse geklop, maar Rugby365 berig Brooke blyk meer bekommerd te wees oor ’n moontlike wedstryd teen Eddie Jones se Engeland.

“Ek is bang vir die Engeland-halfeindstryd,” sê hy.

Brooke noem glad nie Saterdag se kwarteindstryd teen die Iere nie en fokus slegs op ’n moontlike kragmeting tussen Nieu-Seeland en die Rose.

“Indien die spanne mekaar pak, wat ek verwag die geval gaan wees, sal dit neerkom op die opgooi van ’n muntstuk op die dag. Sport op die hoogste vlak gaan oor klein marges en ek kan nie regtig ’n verskil tussen die twee spanne uitwys nie.

“Ek sou graag wou sê ‘ja, Nieu-Seeland sal seëvier’, maar gerustheid ontbreek, ek kan nie met selfvertroue daardie uitlating maak nie.”

Die skynbare faux pas het nie ongesiens verby die bekende Kiwi-rugbykenner Scotty Stevenson gegaan nie.

Die voormalige All Black-skrumskakel Justin Marshall, Radio New Zealand se Hamish Bidwell en Liam Hyslop van stuff.co.za tel onder ander Kiwi-rugbykenners wat die Iere reeds afgeskryf het.

“Ierland is voorspelbaar, die All Blacks sal gereed wees en ek dink hulle kan baie punte aanteken en gerieflik wen,” sê Marshall.

Bidwell meen Ierland is ’n “span wat bederf” en dat “die speel van eintlike rugby hulle ontwyk”. Hy voorspel ’n All Black-sege met “10 tot 15 punte”.

Hyslop voorspel ’n soortgelyk wenmarge. “Die manne in swart is uitstekend op dreef en hulle behoort Ierland weg te blaas,” sê hy.

– Sportredaksie