Jaco Peyper kry die wind van voor oor ’n foto waar hy saam met ’n groep Walliese ondersteuners glo die elmboog nadoen wat gelei het tot die Fransman Sébastien Vahaamahina se rooikaart in Sondag se Wêreldbeker-kwarteindstryd.

Jaco Peyper stuur Sébastien Vahaamahina Sondag van die veld. Foto: Getty Images

Die Franse moes die laaste 31 minute met een speler minder klaarkom nadat die Suid-Afrikaanse skeidsregter die groot slot weens ongeoorloofde spel van die veld gestuur het.

Dit was ’n deurslaggewende oomblik in die wedstryd, met die Hane wat op daardie stadium nog met 19-10 voorgeloop het.

Vahaamahina het ’n breinfloute beleef deur Wallis se flank Aaron Wainwright in ’n losgemaal eers om die nek beet te kry en toe met die elmboog teen die nek en wang te slaan.

Wallis kon die agterstand teen 14 teenstanders uitwis en het uiteindelik die kragmeting in Oita net-net met 20-19 gewen vir ’n plek teen Suid-Afrika in Sondag se halfeindstryd.

Maar Walesonline berig Franse ondersteuners is uit die veld geslaan oor die foto waar Peyper saam met bierdrinkende Walliese aanhangers sy regterelmboog teen die ken van een van hulle vasdruk, glo ’n spottende verwysing na die nare voorval in die wedstryd.

Twitter-gebruikers het Peyper se oordeel bevraagteken, met diegene wat dit as “skandelik”, “steurend” en “dom” beskryf. Daar is selfs ’n beroep deur sommiges gedoen dat die 39-jarige blaser vir die res van die toernooi gepos word of selfs ’n skorsing ontvang.

Vahaamahina was na berig word uiters ontsteld ná afloop van die toets. Hy was naby aan trane toe hy in die kleedkamer aan sy spanmaats sê: “Ek dink ek het heeltemal my kop verloor. Dit is inderwaarheid eintlik onverskoonbaar.”

’n Gebaar van gelukwensing vroeër in die toernooi tussen die Kiwi-blaser Ben O’Keeffe en ’n Fidjiaanse speler in die Suidsee-eilandspan se groepwedstryd teen die Wallabies het ook kritiek ontlok.

O’Keeffe steek sy regterhand uit na Kini Murimurivalu nadat die heelagter gaan druk het om Fidji met 21-12 te laat voorloop. Murimurivalu klap dan O’Keeffe se hand in die verbydraf vir wat as ’n low five beskryf word.

Ben O’Keeffe het die tonge los gehad weens ’n ‘low five’ in ’n WB-groepwedstryd tussen Fidji en die Wallabies.

– Sportredaksie