’n Foto saam met Walliese ondersteuners waar Jaco Peyper glo die elmboog nadoen wat gelei het tot die Fransman Sébastien Vahaamahina se rooikaart in Sondag se Wêreldbeker-kwarteindstryd, het hom sy aanstelling as blaser vir Saterdag se halfeindstryd tussen die All Blacks en Engeland in Jokohama gekos.

Dis egter nie al slegte nuus waarmee Suid-Afrika vandag wakker word nie.

Die Fransman Jérôme Garcès se aanstelling is ook vir Sondag se halfeindstryd in Jokohama tussen die Springbokke en Wallis bevestig.

Netwerk24 se inligting is dat Peyper aangestel was, maar dat Wêreldrugby ná die reaksie oor die foto op sosiale media Maandag besluit het om die Suid-Afrikaner met Wallis se Nigel Owens vir die halfeindstryd te vervang.

Al wat Wêreldrugby Dinsdag oor die aangeleentheid gesê het, is dat Peyper nie oorweeg is nie.

Die foto van Jaco Peyper saam met ’n groep Walliese ondersteuners waaroor die bohaai gaan.

“Peyper erken ’n foto van hom saam met Walliese ondersteuners wat ná die kwarteindstryd tussen Frankryk en Wallis op sosiale media verskyn het, is onvanpas.

“Hy het sy verskoning aangebied,” sê Wêreldrugby in ‘n nuusverklaring.

Peyper se kans om in die eindstryd te blaas is nou skraal, veral met die moontlikheid dat die Bokke moontlik daarin betrokke sal wees.

Garcès en die Springbokke het ’n lang geskiedenis.

Hy was onder meer die skeidsregter toe die All Blacks die Suid-Afrikaners met 20-18 in 2015 se Wêreldbeker-halfeindstryd geklop het. Die Fransman was vroeër in vanjaar se Wêreldbeker ook die blaser toe die Kiwi’s die Bokke 23-13 in hul groepwedstryd in Jokohama geklop het.

Iets waaraan Suid-Afrikaners veral nie herinner wil word nie, is dat Garcès die fluitjie gedra het in hul opspraakwekkende nederlaag van 32-34 teen Japan in Brighton by 2015 se WB-toernooi.

Garcès sal deur Engeland se Wayne Barnes en die Kiwi Ben O’Keeffe as assistent-skeidsregters in Jokohama bygestaan word. Die Nieu-Seelander Ben Skeen is die TV-skeidsregter.

Die Fransmanne Romain Poite en Pascal Gaüzère is die assistent-skeidsregters vir die Engelse toets terwyl Suid-Afrika se Marius Jonker as die TV-skeidsregter vir die halfeindstryd tussen die All Blacks en Engeland aangestel is.