Gregor Townsend, afrigter van Skotland se rugbyspan, beskryf die Suid-Afrikaanse skeidsregter Jaco Peyper se besluit om Samoa Saterdag in die Wêreldbeker (WB)-toernooi vir ’n skewe ingooi by ’n skrum te straf as ’n “verstommende beslissing”.

Dit het daartoe gelei dat die gasheer, Japan, ’n vierde drie vir ’n belangrike bonuspunt kon druk en is daarmee boaan die puntelys in Groep A. Dit bemoeilik ook Skotland se kans om verder as die groepfase in die toernooi te vorder.

Townsend wys daarop dat dit ’n oortreding is wat selde met ’n vryskop gestraf word. Peyper het Samoa boonop gestraf nadat speeltyd reeds verstreke was.

“Ek is nie regtig iemand wat uit my stoel spring wanneer ek rugby kyk nie. Ek het na al die ander ouens se reaksie gekyk,” sê Townsend, wat die wedstryd in Kobe in die span se hotel saam met sy spelers gekyk het.

Japan het die wedstryd met 38-19 in Toyota gewen.

Gregor Townsend, afrigter van Skotland. Foto: Getty Images

“Kyk, ek dink dit was ’n verstommende beslissing. Ek het nog nooit gesien dat ’n skewe ingooi (by ’n skrum) in die WB-toernooi of in die Sesnasies-reeks geblaas word nie. Dit is nie iets wat toegepas word nie en daar is ’n ooreenkoms dat die skrumskakel wat die bal ingooi meer grasie het, want dit is die aanvallende span,” sê hy.

“Om dit in ’n WB-toernooi te sien, het my regtig verras. Dat dit (die beslissing) ná die verstryking van speeltyd gemaak is, was ’n nog groter verrassing. Dit is ’n beslissing wat ek lanklaas in die spel gesien het.”

Skotland speel Woensdag in Sjizoeoka teen Rusland en Sondag teen Japan in Jokohama.

Die Skotte hoop hulle kan albei wedstryde met bonuspunte wen en sodoende nog die kwarteindronde haal.

* ’n Voormalige Ierse toetsskeidsregter, Owen Doyle, het Peyper ook gekap en sê dié beslissing is die toppunt van onbestendigheid omdat dié oortreding nog glad nie by vanjaar se toernooi gestraf is nie.

“Die skeidsregters het ons belowe dat hulle konsekwent sou wees, maar ek onthou nie ’n enkele keer waar ’n vryskop al in die toernooi (vir ’n skewe ingooi by die skrum) gegee is nie. Óf jy straf alle skewe ingooie, óf jy straf dit glad nie – dít is konsekwentheid,” skryf Doyle in ’n rubriek op irishtimes.com.

Doyle sê voorts dié beslissing was ook “blatant onregverdig” teenoor Ierland en Skotland.

Pete Horne, senter van Skotland wat teen die Russe sy eerste speelkans in die toernooi kry, het toegegee hy was een van die spelers wat uit sy stoel gespring het toe Peyper Samoa gestraf het.

“Plaas jouself in Samoa se skoene. Hulle is ’n trotse rugbyland en wou nie die bal uitgeskop het nie. Samoa het die voordeel gehad en wou self gaan druk het om ’n bonuspunt te kry,” sê Horne.

“Dit gaan die verstand te bowe dat die skeidsregter Samoa in hierdie belangrike oomblik in die wedstryd vir ’n skewe skrumingooi straf. Dit het sekerlik vir hulle gevoel asof hul ingedoen is?” – scotsman.com