Sondae om 17:00 het die vier Du Toit-seuns en hul pa, Pieter du Toit, rugby in hul agterplaas op Malmesbury gespeel en Pieter sê hy sou nooit kon dink dat die wêreld se beste rugbyspeler een van hulle sou wees nie.

Pieter-Steph, die oudste van die vier, het die naweek ’n sleutelrol in die Springbokke se oorwinning teen Engeland in die Wêreldbeker (WB)-eindstryd gespeel en is Sondag deur Wêreldrugby as Speler van die Jaar bekroon.

Willemien, Pieter, Pieter-Steph, Johan en Annalene du Toit met die Webb Ellis-beker.

“Ek en my vrou moet nou en dan kyk of ons knope nog aan is, want ons wil uit ons nate bars van trots,” sê Du Toit, wie se pa die oud-Bok Piet (Spiere) du Toit is.

“Vir ’n rukkie ná die eindstryd en die eerbewyse het dit nog nie mooi by my ingesink nie. Ek het eintlik net soos gewoon aangegaan, totdat my tweede jongste my gebel en gevra het: ‘Pa, hoe voel dit om die pa van die beste rugbyspeler in die wêreld te wees?’

“Ek het toe nog nie so daaraan gedink nie. Toe het ek net besef hoe ’n groot impak dit het.”

Du Toit sê dié Wêreldbeker was die tweede een waarin hy sy seun sien speel het. Pieter-Steph was deel van die Suid-Afrikaanse span vir die Wêreldbekertoernooi in 2015. Hy was toe egter nie in die beginspan nie en het in die kwarteindstryd tussen Suid-Afrika en Wallis vir Victor Matfield vervang. Die Springbokke het Wallis met 23-19 geklop.

Vir vanjaar se eindstryd was Pieter-Steph se ouers en broers in die skare, asook sy vrou, Willemien. Hul seun is ses maande oud en het by die huis gebly.

Du Toit sê almal om hulle het geweet Pieter-Steph is hul seun, want Annalene, Pieter-Steph se ma, “hou nie terug nie”.

Johan, Pieter-Steph en Willemien du Toit met die Webb Ellis-trofee net ná die eindstryd.

Johan, die tweede oudste van die broers en ’n Stormer-speler, was tydens die eindstryd glo elke dan en wan op sy voete. “Skrum hulle!” het hy geskree. En dan het hy gevra: “Moet ek kom help?”

Volgens Du Toit was hulle almal – en natuurlik ook Pieter-Steph – uit hul nate van blydskap toe die Springbokke wen.

“Maar Pieter-Steph is nie ’n ou wat baie uiting (aan sy emosies) gee nie.”

Annalene, Pieter en Johan du Toit met Pieter-Steph se nommer op hul rûe by die Wêreldbeker.

Toe die seremonie vir die Wêreldrugby-eerbewyse gehou is, was Du Toit-hulle al op pad terug na Suid-Afrika. Pieter-Steph het sy ouers aangeraai om eerder terug te vlieg as om vir die geleentheid te bly.

“Toe ek van die vliegtuig afklim, begin my selfoon onophoudelik biep,” sê Du Toit.

“Toe bel ’n goeie pel van my in ekstase en wens my geluk met Pieter-Steph se eerbewys. Dit was die eerste wat ek daarvan gehoor het.”

Du Toit het toe sy seun gebel en hulle het daaroor gesels. Daarna het gelukwensinge vir hul albei ingestroom.

Du Toit sê hulle is ’n baie hegte gesin, maar hy en Pieter-Steph deel ’n baie spesiale band. Pieter-Steph het ’n gedeelte van sy pa se kniespier gekry ná ’n besering net voor die vorige Wêreldbeker.

Tydens ’n wedstryd het Pieter-Steph ’n ligament in sy knie seergemaak en dit sou beteken dat hy nie in die Wêreldbeker sou kon speel nie. Die dokters het beplan om ’n sintetiese spier vir hom te kweek, maar dit sou moontlik maande neem. Toe bied Du Toit aan dat hulle sy spier vir sy seun oorplant.

“Hulle het ongeveer die helfte van my spier vir hom oorgeplant. Dit was die eerste keer dat so ’n operasie in Suid-Afrika gedoen is,” sê Du Toit.

“Nou spot my vriende dat ek tantieme moet kry nadat hulle gewen het.”

Du Toit sê in ’n gesprek ná al die feesvieringe het Pieter-Steph gesê dit is nou tyd om nuwe doelwitte te stel.

“Hy het nou een groot doelwit bereik, maar hy sê dit is baie belangrik om jou doelwitte te verskuif sodat ’n mens kan aanhou groei. Ek dink dit is baie mooi gestel.”

Pieter-Steph en sy vrou beplan nou om ’n bietjie te rus en om dalk in die wildtuin te gaan vakansie hou. Hoewel hy nou ’n besige program het, wil hy genoeg tyd saam met sy gesin deurbring.

Pa en seun, Pieter du Toit en Pieter-Steph, in die hospitaal nadat ’n gedeelte van Du Toit se knieligament op sy seun oorgeplant is.