Toe Pieter-Steph du Toit in gr. 11 vertel is dat sy toekoms as ’n beroepsrugbyspeler daarvan afhang dat hy ’n skuif van die lostrio na slot maak, het hy steeds geglo dat hy eendag nog vir die Springbokke op flank sou uitdraf.

Vandag sal elke afrigter hom as ’n kantman inspan, maar Du Toit se titels as Wêreldbeker-kampioen én Wêreldrugby se Speler van die Jaar, sou talle ongelowiges se monde deeglik gesnoer het.

Marius de Jager, wat Du Toit as ’n rugbyspeler help brei het van o.14- tot o.19-vlak, het aan Netwerk24 vertel hoe dié Bok-uitblinker eers laat in sy skoolloopbaan op slot geëindig het.

Hy het skielik langer geword en soos ’n slot gelyk, maar hy wou flank speel.
Marius de Jager

Du Toit is tussen gr. 8 en gr. 10 meestal as ’n agtsteman gebruik vir die Hoërskool Swartland in Malmesbury, maar moes in 2009, toe hy in gr. 11 was, vir die tweede span uitdraf nadat hy geweier het om slot te speel.

Die versoek om slot te speel, het gekom nadat hy as 16-jarige skielik in ’n hemelbesem ontwikkel het en die maatband in matriek tot 1,99 m laat rek het.

“Hy het skielik langer geword en soos ’n slot gelyk, maar hy wou flank speel,” sê De Jager.

Een van die skool se destydse eerstespan-afrigters, Leon Kotze, het vir Du Toit gesê hy sal beter op slot vaar, maar hom wel geleentheid op flank gegee.

“Hy het toe nog nie prominent na vore getree op flank nie en moes nog gewoond raak aan die vereistes van flank speel,” sê De Jager.

Hy is toe vir ’n kort ruk tweede span toe geskuif, voordat beserings vir hom die weg gebaan het om as flank in die skrum te sak vir die eerste span in die res van sy gr. 11-jaar.

Hier het Schreuder Brand se afrigting hom wel help skaaf aan sy vaardighede in die lynstane.

Dit was egter die keurders van Boland se Cravenweek-span wat ’n ultimatum aan hom gestel het: of hy speel slot, of hy word nie vir die Cravenweek oorweeg nie.

Hy is toe met geen ander keuse gelaat nie.

Dit is toe juis in dié posisie wat hy die aandag van die Haaie se talentwerwers getrek het tydens ’n wedstryd teen die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) in 2010.

Sy professionele loopbaan het toe by die Haaie afgeskop as ’n slot, maar Du Toit was altyd oortuig daarvan dat sy beste spel in die lostrio sou wees.

“Pieter-Steph het in gr. 11 vir my gesê hy gaan vir die Springbokke flank speel. Dit was sy droom,” vertel De Jager.

In 2012 het hy in die nr.7-trui uitgedraf vir die Junior Bokke toe hulle Nieu-Seeland in die eindstryd van die o.20-Wêreldtoernooi op Nuweland met 22-16 verslaan het. Dít nadat hy aanvanklik ook as slot gekies is deur Dawie Theron, die destydse Junior Bok-breier.

DIe Hoërskool Swartland se oud-leerling Pieter-Steph du Toit was op skool reeds ‘n reus. Foto: Verskaf

Sy senior internasionale buiging as flank was egter een wat hy nie sal wil onthou nie. Die datum was 19 September 2015 en daar is ’n fliek, The Brighton Miracle, oor dié wedstryd gemaak.

Du Toit het swaar deurgeloop vir sy vertoning teen die Japanners, maar onder Rassie Erasmus het hy opnuut lewe in dié posisie gekry.

Nou word sy inklimspel en fisieke verdediging as die maatstaf in wêreldrugby beskou.

Nietemin het hy as skoolseun nooit eens ’n voet in die gimnasium gesit nie.

“Hy was natuurlik sterk van al die harde werk op die plaas,” sê De Jager.

Sy voormalige afrigter was altyd oortuig dat Du Toit die fisieke eienskappe het wat van hom ’n ideale flank in Suid-Afrikaanse kringe kan maak.

En wie sou kon raai dat ’n teruggetrokke kind dié eienskappe sou hê?

“Hy was nooit iemand wat die aandag wou hê nie,” sê De Jager.

Wel, die skaam knaap is nou met reg die Hoërskool Swartland se trots.

“Hy is ’n hengse motivering vir die kinders hier en skielik glo hulle dat as iemand van ’n skooltjie soos hy dit kan maak op die groot verhoog, kan ander sekerlik ook.”