Waar bly Engeland en die res van die wêreld? Hulle bly stil. Tjoepstil.

Dat Rassie Erasmus ’n bobaasstrateeg is, het net weer in gister se Wêreldbekereindstryd geblyk toe die Springbok-afrigter sy Engelse eweknie, Eddie Jones, met ’n plan B getroef het.

Laaste spyker in die doodskis! Cheslin Kolbe bulder van plesier nadat hy deur die Engelse verdediging gebars het vir die drie wat hulle gesink het. Foto: GETTY Images

Waar die Springbokke tot voor vandag se Wêreldbekereindstryd in Jokohama grootliks skoppe as ’n wyse van aanval gebruik en spanne tot oorgawe geduik het, het die Suid-Afrikaners die Engelse verras deur met veel groter balans tussen verdedig en aanval met die bal in die hand te speel.

Hierdie strategie het soos ’n bom gewerk, en die Engelse en Jones met 32-12 gelykgemaak.

Ja, die Bokke het die bal meer gedra as gebruiklik, met spelers soos Makazole Mapimpi, Lukhan­yo Am en Cheslin Kolbe wat briljant op die aanval was.

Maar dis soos Erasmus vooraf voorspel het, dat die span met die beste verdediging die Wêreld­beker sou wen.

Die Bokke was dalk nie altyd op hul snykant by die toernooi wat aanvallende spel betref nie, maar hulle was by verre die beste verdedigende span, met Jacques Nienaber wat die Suid-Afrikaners se meesterbrein in dié afdeling is.

Warren Gatland, Wallis se afrigter, se voorspelling nadat sy span teen die Bokke in die een WB-halfeind verloor het, is ook gister bewaarheid.

Hy het gesê Engeland het sy eindstryd in die halfeindstryd gespeel toe die Rose die All Blacks uitgeskakel het. Dit wás toe die geval.

Die Bokke het die Engelse veral in die eerste helfte onkant betrap met hul taktiek om die bal lug te gee.

Rassie ‘kul’ Jones toe Bokke die bal lug gee

As die Bokke se afronding beter was en hulle nie twee keer naby aan Engeland se doelgebied die bal in die eerste ses minute verloor het nie, kon die rustydtelling nog meer in die Suid-Afrikaners se guns gewees het.

Daar was vooraf baie praatjies in die Engelse media dat hul span die fiksste van ál die spanne in die toernooi is, maar miskien moes hulle eers die Bokke se fiksheidsghoeroe, Aled Walters, gevra het wat hy daarvan dink.

Dis die Engelse wat nie kon byhou nie en ook g’n antwoord gehad het vir die Suid-Afrikaners se fisiekheid, verdediging en aanvallende spel nie.

Engeland se probleme het egter in die skrums begin nadat ’n terugslag hom in die derde minuut getref het. Kyle Sinckler het ’n harde stamp teen die kop gekry nadat hy Mapimpi probeer duik het, en sy wedstryd was gevolglik verby.

Sinckler was een van die Engelse se sterre as baldraer teen die All Blacks en is deur Dan Cole vervang. Cole is vroeër vanjaar in die Sesnasies-reeks deur sy afrigter gepos.

Punte

SPRINGBOKKE 32

Drieë: Makazola Mapimpi, Cheslin Kolbe.
Doelskop: Handré Pollard (2).
Strafdoele: Pollard (6).

ENGELAND 12

Strafdoele: Farrell (4).

Cole se skrumwerk is ’n swakpunt, en Beast Mtawarira het dit uitgebuit deur vier strafskoppe net voor lemoentyd teen hom af te dwing.

Die Bokke het self vroeg terugslae beleef toe Lood de Jager en Bongi Mbonambi tegelykertyd in die 22ste minuut die veld met onderskeidelik ’n skouerbesering en ’n harde kopstamp verlaat het.

Net nadat De Jager en Mbonambi die veld verlaat het, het Engeland vir 12 minute op die Bokke se doellyn geboer, maar kon na die een aanval op die ander nie ’n gat in die Suid-Afrikaners se muur van verdediging kry nie.

Uiteindelik het Owen Farrell besluit hy het genoeg gehad en aan Jérôme Garcès beduie hy korrel pale toe.

In dié tydperk het Am, wat vroeër die bal aangeslaan het, een van die belangrikste duikslae in die toets uitgevoer toe hy die situasie goed opgesom en Elliot Daly met bal en al platgetrek het. Dit was toe die Engelse drie agterspelers teenoor die twee Bokke voor hulle gehad het.

Am was nie net uitstekend op die verdediging nie, maar dit was ook een van sy beste toetse tot nog toe as ’n aanvaller.

Nog ’n belangrike oomblik in die eerste helfte was toe Duane Vermeulen in die 38ste minuut, toe Engeland gedreig het om beheer van sake te neem, ’n belangrike omgekeerde bal op Engeland se tientreëlyn gewen het.

Handré Pollard, wat soos in die halfeindstryd ’n goeie dag met die skopskoen beleef het, het geen fout met daardie strafdoel gemaak nie en die Bokke se voorsprong na 9-6 vergroot.

Pollard was ook in die kol met sy stelskop toe Cole die vierde keer voor rustyd gestraf is.

Afgesien van Mtawarira, Am, Mapimpi en Kolbe, was Vermeulen, Pieter-Steph du Toit, Faf de Klerk en Willie le Roux uitstaande.

Mapimpi was terloops nie net goed met die wyse hoe hy afrond nie, maar sy lugspel was die beste van sy toetsloopbaan.

As daar ’n verdediger van die eindstryd aangewys moes word, het Du Toit loshande daardie toekenning verdien. Hy het hulle papgeduik en wéér ’n yslike werkverrigting gehad.

Vermeulen was puik by die afbreekpunte, maar dit was weer by die inskoppe waar hy met sy sterk lopies uitstekende werk verrig het.

Le Roux, wat nie altyd op sy beste in die Wêreldbeker was nie, het toe dit van hom op die groot verhoog verwag is, sy beste vertoning van die toernooi gelewer.

’n Mens wonder hoeveel Gysie Pienaar en Fourie du Preez se mooi woorde in die aanloop tot die eindstryd vir hom sielkundig beteken het.

Le Roux was in die eindstryd die voorste lugspeler op die veld en hy het ’n sterkpunt van Engeland daardeur geneutraliseer. Hy het ook ’n paar goeie duikslae ingekry.

Le Roux was ewe goed met sy verdediging. Ook De Klerk, wat self fel kritiek verduur het in aanloop tot die eindstryd, was op sy kop en het die Engelse besig gehou.

Jones het ná die halfeindstryd teen die All Blacks gesê jy moet teenstanders se energie bepaal en dit wegneem as jy wil wen. Dít het Eben Etzebeth met Maro Itoje gedoen, en die Engelse was hul byt in die proses kwyt.

Bygesê dit het ook baie gehelp dat Jérôme Garcès vir ’n slag die Bokke beloon het wanneer hulle ’n afdeling soos die skrums oorheers het.

As daar een Bok is wat die Wêreldbeker dubbel en dwars verdien, is dit Siya Kolisi wat ’n kapteinsbeurt in die Wêreldbeker met sy leierskap gespeel het. Die wen in sy 50ste toets is ’n sprokiesverhaal soos min.