Hoewel Argentinië nie vir die uitkloprondes van vanjaar se Wêreldbeker-toernooi kon kwalifiseer nie, dink die Poemas se hoofafrigter, Mario Ledesma, nietemin dat daar baie is om oor opgewonde te raak.

Die Poemas het Amerika Woensdag in Koemagaja in hul laaste wedstryd op die toernooi met 47-17 verniel.

Argentinië het derde in Groep C geëindig ná nederlae teen Frankryk en Engeland en oorwinnings oor Amerika en Tonga.

Dit verseker dat die Poemas outomaties kwalifiseer vir 2023 se toernooi, maar as ’n mens in ag neem hulle het in 2015 in die halfeindronde gespeel, is dit maar bra teleurstellend.

Ledesma het ’n hele paar jongelinge teen Amerika speelkans gegee en van hulle, soos die senter Juan Cruz Mallia, het dié kans met albei hande aangegryp.

“Die jongelinge was skitterend, ons het dit van hulle verwag en hulle het hul deel gedoen,” sê Ledesma.

Mario Ledesma, die Argentyne se hoofafrigter, is ’n uitgeslape breier. Foto: Gallo Images

“Ons is wel uit die Wêreldbeker, maar met hierdie ouens, lyk die toekoms goed vir Argentinië.”

Amerika kon nog net drie oorwinnings in 26 Wêreldbeker-wedstryde behaal.

Die span, wat deur die voormalige Springbok-hulpafrigter Gary Gold gebrei word, speel Sondag sy laaste wedstryd in vanjaar se toernooi teen Tonga.

Die Eagles se verdediging sal egter dramaties moet verbeter as hulle Tonga wil verras. Teen die Poemas het hulle 46 duikslae verbrou.

“Ek glo nie daardie syfers nie, maar ja, ons moet in daardie afdeling verbeter,” sê Gold.

“Dalk belangriker is dat ons beter na die bal moet kyk.”

Blaine Scully, Amerika se kaptein, sê Argentinië is ’n “gevaarlike span” en jy gaan duur betaal as jy soveel besit aan hom afstaan.

Dit was ook die 36-jarige losvoorspeler Juan Manuel Leguizamon se laaste wedstryd vir Argentinië.

“Ons is bly ons kon hom help om met ’n oorwinning afskeid te neem,” sê Pablo Matera, die Poemas se kaptein. – Reuters