As Handré Pollard nie gemaklik voel dat dit die regte opsie is nie, gaan hy nie met skepdoel-pogings waag in Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd tussen die Springbokke en Engeland in Jokohama nie.

Die 25-jarige Pollard se selfvertroue het in verlede week se halfeindstryd teen Wallis ’n stewige hupstoot gekry deur ’n foutlose vertoning met sy stelskopwerk te lewer en hy beplan om die druk in die eindstryd te omarm.

“Dis nie ’n geheim dat eindstryde al deur skepdoele en strafdoele bepaal is nie,” het Pollard gesê.

“ ’n Mens gaan egter nie te veel daaraan dink nie, want jy wil die prosesse vertrou. Ek ken my beperkinge. Ek weet waar op die veld ek kan terugval (vir ’n skepdoel), watter hoeke sal werk of nie.

“As ek nie gemaklik voel nie, sal ek nie die skepdoel probeer nie. Ek sal dit nie forseer nie.”

Pollard plaas baie vertroue in sy voorspelers. Hy is selfs van mening dat die Bokke se pak die Engelse agttal onder druk by die vaste fasette kan plaas.

“As jy wel gemaklik voel, moet jy die kans met ’n skepdoel neem. Daar gaan nie baie geleenthede wees om dit te doen nie.

“Alles sal van die wind afhang, hoe ver ek terugval.”

Volgens die weervoorspelling vir Saterdag gaan ’n oostewind van tussen 10 en 20 km/h waai, wat skopwerk dus nie te erg sal bemoeilik nie.

Die druk vermeerder in uitklopwedstryde op ’n skopper, maar die voormalige Bokke Joel Stransky en Jannie de Beer, Engeland se oud-skopheld Jonny Wilkinson en die gewese Wallaby Stephen Larkham het almal gewys hoe belangrik skepdoele kan wees in groot WB-wedstryde.

Handré Pollard Vrydag by die Springbokke se laaste nuuskonferensie voor die eindstryd. Hy sê die geheim gaan wees om die enorme druk in energie te omskep. Foto: Getty Images

“Ek is lief vir die druk. Dit is hoekom jy oefen en al die ure insit.

“Al vandat jy ’n klein seuntjie in jou agterplaas was, droom jy oor ‘dis die skop in die eindstryd’ en al daardie scenario’s. Eintlik berei jy al jou hele lewe daarvoor voor.”

Die druk gaan nietemin groot wees en ’n taai affêre word voorspel al beskou veral die oorsese kenners vir Engeland as die groot gunsteling.

“Jy moet die druk omhels en geniet. Daar gaan nie net druk op die skopwerk wees nie, maar die hele wedstryd gaan ’n drukkoker wees.

“Ek dink die geheim van ’n eindstryd is om daardie druk in energie te omskep en dit in die regte rigting te stuur.

“Ek is baie opgewonde en kan nie langer wag nie.”

Die Bokke beplan ’n aantal verrassings vir die eindstryd, maar Pollard het tong-in-die-kies gesê dit sal nie die diskoligte wees wat Rassie Erasmus destyds as die Cheetahs se afrigter op die dak van die Vrystaat-stadion gebruik het nie.

“Engeland het dalk ons bloudruk, maar ons het ook hulle s’n. Jy gaan nie veel aan die spanne se DNS kan verander in slegs ’n week nie.

“Daar gaan ’n lyn in die sand wees. Ons moet hulle stop en hulle sal oor dit wil kom.”