Dit sou meer geverg het as die knie wat hy sowat tien minute voor die eindfluitjie in die Wêreldbeker-eindstryd teen sy wang gekry het, om die Springbok-losskakel Handré Pollard van die veld te kry.

Pollard is Donderdag uit die hospitaal ontslaan nadat hy Saterdag sy wangbeen in die WB-sege oor Engeland in Japan gebreek het.

Hy sê ’n knie van een van sy spanmaats het hom diep in die tweede helfte in die gesig getref, maar hy het nie besef sy wangbeen is gebreek nie.

“Dit is seker die adrenalien wat maak dat ’n ou nie te veel daarop fokus nie. Ek het nooit oorweeg om die veld te verlaat nie en het eers ná die wedstryd besef daar is fout.”

Pollard, wat ’n persoonlike bydrae van 22 punte met sy skopvoet gelewer het, sê dit is ’n geringe prys om te betaal.

“Ek sal Saterdag se ongelooflike ervaring vir niks verruil nie, al beteken dit ook dat ek nie vandag (Donderdag) saam met die ouens kan wees nie.”

Op dié foto, waar Handré Pollard (heel regs) saam met Duane Vermeulen (links), Bongi Mbonambi en Eben Etzebeth met hul wennersmedaljes staan, kan gesien word waar Pollard die hou teen sy linker-wangbeen gekry het. Foto: Getty Images

Hy het vroeër op Instagram gesê hy sal dit 1 000 keer oor doen om die Bill (Webb Ellis-beker) vas te hou.

Die Springbokke het Donderdag Pretoria, Johannesburg en Soweto se strate ingevaar met ’n oorwinningsparade wat by die Uniegebou begin het.

Sy wangbeen is met ’n staalplaat geheg en Pollard sal Sondag by die span aansluit vir die Bokke se parade in Kaapstad die volgende dag.

Daarna is daar nie veel tyd om uit te span nie. Pollard vlieg reeds op 17 November na Frankryk om by sy nuwe span, Montpellier, aan te meld.

Die Bulle het vroeër vanjaar alles moontlik probeer om Pollard in Pretoria te hou.

Alles vergeefs, met die 25-jarige Bok wat nou een van die hoogs betaalde spelers in wêreldrugby word.