Die Springbokke gaan nie nou paniekknoppies ná die Wêreldbeker-nederlaag van 23-13 teen die All Blacks in Jokohama druk nie.

“Ons het steeds die nodige vertroue in die groep en die afrigtingspan,” sê die losskakel, Handré Pollard.

“Dis pynlik, want dis nooit lekker om in ’n Boktrui te verloor nie. Ons selfvertroue is egter nie geknou nie.

“Ons moet die klein dinge reg doen. Ons was waarskynlik so vyf persent van ons beste.

“Dis Wêreldbekerrugby. Ons sal baie hieruit leer. Ons kan nie bekostig om nou negatief te raak nie.”

Die veggees wat die Bokke getoon het toe hulle rustyd 17-3 teen die All Blacks agter was, gee Pollard hoop dat sy span nog die Wêreldbeker kan wen.

“Ons het vier jaar gelede (teen Japan in Brighton) ’n baie swakker begin (tot die Wêreldbeker) gehad. Ons sal die week lekker praat oor die All Black-toets.

“Die somme is nou maklik. Ons moet ses uit ses wen. Geen verskonings nie, ons moet eenvoudig net harder gaan werk.”

Iets wat die Bokke vorentoe moet verbeter om ’n ernstige aanspraakmaker te word, is onder meer hul afronding.

“Ons het kanse gehad en was in hul kwartgebied. Ons moet die kanse beter benut.

“Een of twee oomblikke was die verskil (tussen wen en verloor). Dis Wêreldbekerrugby. Dis die Bokke teen die All Blacks.”

Op ’n persoonlike noot glimlag Pollard breed oor die skepdoel wat hy oorgeklits het, ofskoon die uitslag teleurstellend is.

YOKOHAMA, JAPAN - SEPTEMBER 21:Trevor Nyakane of S
Trevor Nyakane se Wêreldbeker is straks verby. Foto: Getty Images

Hy kan nou volgende week ’n ruskans verwag wanneer die Bokke in Toyota teen Namibië speel.

Elton Jantjies behoort Saterdag die Bokke se nommertientrui in die toets teen Namibië te dra. Dis nou as hy nie nog enige las van ’n ligte dyspierbesering ervaar nie. In so ’n geval het die Bokke die opsie om Frans Steyn op losskakel te kies.

Rassie Erasmus sal na verwagting sy sogenaamde B-span, of dan die “weekdagspan”, vir die Namibiese toets kies om aan verskeie van sy staatmakers ’n blaaskans te gee.

Spelers soos Cobus Reinach, Schalk Brits, Vincent Koch, Lood de Jager en Warrick Gelant kan ook in Saterdag se toets betrokke wees.

Geen van dié spelers was in die 23-tal teen die All Blacks nie.