Handré Pollard is reg om die sneller met ’n skepdoel te trek sou dit in Sondag se Wêreldbeker (WB)-kwarteindstryd teen Japan in Tokio van hom verwag word.

Die geskiedenis het geleer uitklopwedstryde in WB-toernooie is onvoorspelbaar. ’n Klomp dinge waaroor die Bokke nie beheer het nie, soos die wip van die bal en skeidsregterbeslissings kan die uitslag van dié kwarteindstryd tot in die laaste oomblikke in die weegskaal plaas.

Pollard se skopskoen moet in so geval inskop.

“Ek gaan nie enige geheime of ons wedstrydplan weggee nie,” sê Pollard.

“Maar dit is uitspeelrugby. Ons almal ken die geskiedenis van skepdoele in Wêreldbekers. So dis geen geheim nie. Dis baie belangrik en kan ’n rol in die kwarteindstryd speel. Dis iets wat ons altyd gereed is om te doen as dit die regte tyd is.”

Hy sê hy gaan egter nie iets probeer afdwing nie.

“As die geleentheid hom voordoen, sal ek dit doen. Enige punte, maak nie saak of dit drie, vyf of sewe is nie, is waardevolle punte.”

Dat skoppe ’n belangrike rol in die kwarteindstryd gaan speel, is ’n gegewe.

’n Interessante waarneming tydens die Bokke se skopoefening Vrydag in die Tokio-stadion, waar verskeie Japannese skrywers, fotograwe en kameramanne teenwoordig was, was die voetaangee wat Pollard en Willie le Roux geoefen het.

Hulle het die Bokke se Ierse konsultant, Felix Jones, as hul denkbeeldige vleuel gebruik en was baie akkuraat daarmee.

Le Roux en Faf de Klerk het ook aan hul kantlynskoppe gewerk.

De Klerk het later saam met Cobus Reinach sy lugskoppe geoefen, waarna laasgenoemde en Herschel Jantjies aandag aan hul taktiese skoppe gegee het – ’n afdeling van die Bokke se spel wat nie na wense in die groepwedstryd teen die All Blacks was nie.

ss

Pollard was ná vandag se skopoefening ingenome met die toestand van die speeloppervlak. Hy en sy hulpafrigter Mzwandile Stick was dit eens dat dit een van die bestes in die WB-toernooi is.

Dis wel waar dat die All Blacks en Ierland Saterdag op hom speel voordat die Bokke se kragmeting Sondag plaasvind.

Pollard het nie werklik in praatjies oor Brighton ná die skopoefening belang gestel nie. Dis terloops ’n vraag wat tot vervelens toe in elke nuuskonferensie van die Bokke dié week gevra is.

“Vier jaar gelede was ’n ander storie. ’n Ander Suid-Afrikaanse span, ’n ander Wêreldbeker en ’n ander plek. So daar het intussen baie gebeur. Die ouens wat deel was van daardie 2015-span, het sekerlik geleer uit die foute wat ons gemaak het. Hopelik kan ons daarop verbeter in hierdie uitspeelwedstryde,” sê hy.

“Maar dit is nie ’n groot fokus nie. Ons wil Sondag ons beste rugby speel en met een punt of wat ook al wen – ons moet net wen.”

* Verwagte weerstoestande: Bewolk, maar geen reën word voorspel nie. Die temperatuur behoort ongeveer 20 °C teen afskoptyd te wees.

* Suid-Afrika: Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Makazole Mapimpi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Duane Vermeulen, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Lood de Jager, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi en Beast Mtawarira. PLAASVERVANGERS: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Vincent Koch, RG Snyman, Franco Mostert, Francois Louw, Herschel Jantjies en Frans Steyn.

Japan: Ryohei Yamanaka, Kotaro Matsushima, Timothy Lafaele, Ryoto Nakamura, Kenki Fukuoka, Yu Tamura, Yutaka Nagare, Kazuki Himeno, Lappies Labuschagné, Michael Leitch (k), James Moore, Luke Thompson, Jiwon Koo, Shota Horie en Keita Inagaki. PLAASVERVANGERS: Atsushi Sakate, Isileli Nakajima, Asaeli Ai Valu, Wimpie van der Walt, Amanaki Mafi, Fumiaki Tanaka, Rikiya Matsuda, Lomano Lemeki.

Skeidsregter: Wayne Barnes (Engeland).

Assistentskeidsregters: Ben O’Keeffe (Nieu-Seeland) en Luke Pearce (Engeland).

TV-skeidsregter: Rowan Kitt (Engeland).

TV: 12:15 (SS 1).

* Volg die wedstryd ook regstreeks op Netwerk24.