Die Springbokke benodig nog ’n oorwinning en ’n bonuspunt oor Kanada in Dinsdag se Wêreldbeker-groepwedstryd in Kobe om tot die kwarteindstryd van die Wêreldbeker-toernooi deur te dring. Ondersteuners mag ’n sege as vanselfsprekend beskou, maar die Bok-kamp self het die belang van die kragmeting verskeie kere beklemtoon. Hendrik Cronjé skryf oor vyf van die besprekingspunte in die toets.

Proewe vir Damian

Die insluiting van Damian Willemse op heelagter is in vele opsigte insiggewend.

Die Bokke se verduideliking dat hulle die werklading van Makazole Mapimpi wil bestuur en daarom besluit het om Warrick Gelant na vleuel te skuif maak sin.

’n Mens moet versigtig trap hoe jy dit verder interpreteer, maar die moontlikheid om Willemse, Cheslin Kolbe en Mapimpi later in die toernooi saam in die agterste driehoek te sien bly aanloklik.

Willemse en Kolbe saam kan met hul aftrappe die Bokke een van die gevaarlikste aanvallende spanne in die toernooi maak.

Dit is so dat Willie le Roux meer ervaring het, die Bokke ’n ander skopopsie met sy linkervoet bied, as een van die beste kommunikeerders in die agterlyn beskou word en al baie drieë met sy aangeewerk bewerkstellig het, maar Willemse verdedig beter, hy beskik oor giftige voetwerk en sy lugspel is ’n sterk punt.

Met ’n goeie vertoning teen Kanada sal Willemse sy afrigters minstens oor sy insluiting in die sogenaamde A-span voor die kwarteindstryd laat dink, hoewel Le Roux se ervaring baie in die uitklopstryde werd sal wees.

“Ek het die nodige honger,” sê Willemse.

“Ek het nog nie saam met S’bu Nkosi en Warrick in ’n agterste driehoek gespeel nie. Albei van hulle kan goed afrond. Hopelik kan ek die bal by hulle uitkry dat hulle hul towerkuns kan doen.”

Willemse het bevestig dat hy onlangs losskakel en heelagter vir die Engelse klubspan Saracens gespeel het.

Verdediging ’n bondgenoot

As jy ’n sterk aanduiding wil kry wie ’n goeie kans staan om die Wêreldbeker te wen, gaan loer gerus wie die spanne is wat sover die minste punte in rugby se skouspel afgestaan het.

Suid-Afrika is met 29 punte een van net vyf spanne in die toernooi wat minder as 30 afgestaan het.

Ierland (22), Skotland (27), Nieu-Seeland (22) en Engeland (20) is die ander.

Skotland het egter nog net twee toetse gespeel, terwyl die vier ander al drie van hul groepwedstryde elk voltooi het.

Die Bokke se balansstaat kan ná hul toets teen Kanada nog beter lyk aangesien die Kanadese nie ’n punt teen die All Blacks kon behaal nie.

Dis waar dat aanvallende rugby boude op sitplekke in stadions kry, maar die geskiedenis skets ’n prentjie dat verdediging Wêreldbekers wen.

Beste speeltoestande nog, maar...

Van die Suid-Afrikaanse rugbyskrywers op toer het hier in Kobe die eerste keer tydens die Wêreldbeker hul baadjies in die aande aangetrek.

Die humiditeit voel nie so erg soos die geval in Toyota, Jokohama of Sjizoeoka was nie.

Dis vooraf verwag dat speeltoestande later in die toernooi sal verbeter, wat besig is om te gebeur.

Dinsdag se wedstryd word egter onder ’n toedak gespeel, wat die verbeterde humiditeit en koeler temperature by die kantlyn uitskop.

Met vandag se kapteinsoefening voor 30 132 leë sitplekke, het dit met tye reeds soos ’n sauna gevoel. Dit kan tot baie hanteerfoute lei.

Laaste hoera vir Schalk

Die moontlikheid bestaan dat dit die laaste keer is dat Schalk Brits in ’n Bok-trui speel.

Schalk Brits Foto: Gallo Images

Die 38-jarige Brits se waarde sover as ’n spanman in Japan kan nie genoeg vermeld word nie.

Jonger hakers soos ’n Joseph Dweba is gereed om by hom oor te vat en Akker van der Merwe is een van die ongelukkiges om nie die Wêreldbeker-groep te haal nie, maar Brits sou altyd ’n groter rol van die veld as op hom speel aangesien hy nie ’n eerstekeuse of tweedekeuse speler is nie.

Sy energie, selfs in vandag se kapteinsoefening, is aansteeklik onder sy spanmaats.

Hy verdien om sy internasionale loopbaan op ’n hoogtepunt af te sluit, hetsy dit vandag of vanweë beserings later in die uitkloprondes is.

DTH se spesiale dag

Dinsdag se toets is om verskeie redes ’n groot oomblik vir die Kanadese vleuel DTH (Daniel Tailliferre Hauman) van der Merwe.

Die 33-jarige boorling van Worcester sal die eerste keer in 61 toetse teen die Bokke speel.

Hy sal ook in sy 15de Wêreldbeker-wedstryd speel om Rod Snow en Jamie Cudmore se Kanadese rekord van 14 Wêreldbeker-wedstryde te verbeter.

“Dis (die toets) iets baie spesiaal,” het Van der Merwe gesê wat in sy vierde Wêreldbeker speel.

“Ek wag al my hele loopbaan om teen Suid-Afrika te speel. My ouma en van my nefies en niggies woon nog in Suid-Afrika.

“Die Bokke het ’n fisieke pak en ’n blitsige agterlyn. Dis vir ons ’n geleentheid om onsself teen een van die beste spanne ter wêreld te meet.”

Een van Kanada se plaasvervangers, die 24-jarige Guiseppe du Toit, is in Johannesburg gebore.

* Spanne:

Bokke: Damian Willemse, Warrick Gelant, Damian de Allende, Frans Steyn, S’bu Nkosi, Elton Jantjies, Cobus Reinach, Francois Louw, Kwagga Smith, Siya Kolisi, Franco Mostert, RG Snyman, Vincent Koch, Schalk Brits, Thomas du Toit. PLAASVERVANGERS: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Frans Malherbe, Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit, Herschel Jantjies, Handré Pollard, Willie le Roux.

Kanada: Andrew Coe, Jeff Hassler, Conor Trainor, Ciaran Hearn, DTH Van Der Merwe, Peter Nelson, Phil Mack, Tyler Ardron (k), Matt Heaton, Lucas Rumball, Kyle Baillie, Evan Olmstead, Jake IInicki, Andrew Quattrin, Hubert Buydens. PLAASVERVANGERS: Benoit Piffero, Djustice Sears-Duru, Matt Tierney, Josh Larsen, Michael Sheppard, Jamie Mackenzie, Shane O’Leary, Guiseppe du Toit.

Skeidsregter: Luke Pearce (Engeland). Assistent-skeidsregters: Angus Gardner (Australië) en Andrew Brace (Ierland). TV-skeidsregter: Rowan Kitt (Engeland).