As die Springbokke die volgende twee weke hul kanse benut en nie “sagte” oomblikke beleef nie, glo Rassie Erasmus hulle het ’n kans om vanjaar die Wêreldbeker te verower.

Die Bokke se aandag is vir eers net op Sondag se halfeindstryd teen Wallis in Jokohama gerig, maar Erasmus is ná die oorwinning van 26-3 oor Japan in Tokio gevra waarop sy span ná die kwarteindstryd moet verbeter as hy die Wêreldbeker soos in 1995 en 2007 wil wen.

“Bestendigheid vir ’n volle 80 minute is ons grootste uitdaging,” het Erasmus gesê.

“Ons het die agttal en agterspelers om die hele pad te gaan. Maar as jou spelpeil vir vier minute daal in ’n wedstryd van 80 minute, waar die bal 40 minute in spel is, sal jy uitgevang word.

“Ek dink ons hoef nie in spesifieke afdelings te verbeter nie, maar sal vir 80 minute moet konsentreer as ons die Wêreldbeker wil wen.”

Die Bokke het dit in hul openingswedstryd teen Nieu-Seeland op die harde manier geleer toe hulle in ’n kwessie van net ’n paar minute 17 punte afgestaan het.

Duane Vermeulen, die Bok-agtsteman, het sy span se verdediging in die kwarteindronde geprys, maar was nie tevrede met die Bokke se afronding nie.

“ ’n Mens kry nie in uitkloprugby soveel kanse soos ons in die eerste helfte teen Japan gehad het nie. Ons moet dit regstel. Dit was klein individuele foute wat ons kan regstel,” het Vermeulen gesê.

“Ons was die eerste helfte onder yslike druk. Japan het die bal wyd versprei.

“Dit was moeilik om net met 14 spelers (toe Beast Mtawarira met ’n geel kaart gestraf is) vir daardie tien minute teen hulle te verdedig.

“Ons is nietemin tevrede met die oorwinning, want dis uitkloprugby en die bal kon enige kant toe wip.

“Ek dink daardie eerste helfte kan ons vorentoe in die toernooi baie help.”

“Sagte” oomblikke, soos dié boorvat deur Beast Mtawarira, wat op ’n geel kaart uitgeloop het, het die Bokke onder groot druk geplaas teen Japan. Mtawarira het die stut Keita Inagaki ná die wedstryd om verskoning gevra. Foto: Getty Images

Vermeulen verwag die uitdaging teen Wallis gaan groter en moeiliker wees.

“Ons het Wallis laas in 2015 geklop, so dit gaan moeilik wees. Ons is tevrede met ons verdediging, dit was ’n massiewe poging op die veld.”

Die laaste keer dat Suid-Afrika met die Rooi Drake kon afreken, was in die kwarteindstryd van 2015 se Wêreldbeker-toernooi.

Die einste Vermeulen het daardie dag op Twickenham met ’n briljante aangee na Fourie du Preez die verskil in die oorwinning van 23-19 gemaak.

Sedertdien het Wallis die Bokke in 2016 met 27-13, 2017 met 24-22 en toe twee keer verlede jaar onder Erasmus se afrigting geklop.

“Ek het nog nooit teen ’n Walliese span afgerig waar ons al ons eerstekeuse-spelers kon kies nie. Dit sal waarskynlik die eerste keer wees,” het Erasmus gesê.

In verlede jaar se kragmeting in Washington DC, waar Wallis met 22-20 baas was, het Erasmus sy eerstekeuse-spelers in Suid-Afrika laat agterbly om vir die eerste toets teen Engeland voor te berei.

Spelers soos Beast Mtawarira, Lood de Jager, Faf de Klerk, Herschel Jantjies, Makazole Mapimpi, Lukhanyo Am en Frans Steyn was ook nie by verlede jaar se nederlaag van 11-20 in Cardiff betrokke nie.

“Wallis het goeie diepte in elke posisie en sy spelers het goeie selfvertroue en spangees.

“Elke keer wat ek teen ’n Walliese klubspan afgerig het (toe hy Munster in Ierland gebrei het), was dit nooit ’n maklike wedstryd nie.

“Ek weet nie of my kennis van individuele spelers ons sal help nie, maar miskien sal dit in die algemene manier waarop hulle speel, help.”

* Die Bokke het danksy hul oorwinning en Ierland se groot nederlaag teen die All Blacks tot in die vierde plek op die jongste wêreldranglys opgeskuif. Dit beteken die vier voorste spanne op die ranglys is almal die naweek in die halfeindronde in aksie.

Nieu-Seeland gee steeds die pas aan, met sy teenstander Saterdag, Engeland, in die tweede plek en Wallis derde.