Die Springbokke het nie die toets verloor nie, die All Blacks het hom gewen.

Dít was ’n teleurgestelde Rassie Erasmus se reaksie net nadat die All Blacks sy span Saterdag met 23-13 in ’n Wêreldbeker-wedstryd in Jokohama se International-stadion geklop het.

“Die strafskoptelling was in die omgewing van 11-1 in die All Blacks se guns. Dissipline was ons grootste probleem,” het Erasmus gesê.

Die moontlikheid het volgens hom altyd bestaan dat jy ’n groepwedstryd kan verloor as jy in dieselfde groep as die All Blacks speel.

“Die All Blacks se twee drieë het ná ons foute gevolg. Hulle is meesters om teenstanders se foute uit te buit.

“Die uitslag het ons nou onder druk geplaas. Die groepwedstryd teen Italië gaan taai wees. Ons moet eers verby hulle kom voordat ons aan die kwarteindstryd kan dink.”

Die Bok-afrigter het die All Blacks se jong vleuels, Sevu Reece en George Bridge, as van hul sterre uitgesonder.

“Hulle (die vleuels) was uitstekend. Kyk, Nieu-Seeland het sonder twyfel verdien om te wen.

“Ek sou nie sê die telbord vlei ons nie. Maar as hulle teen die einde ’n drie gedruk het, het hulle ons ’n pak slae gegee. Ek het wel ook gevoel ons kon terugveg.”

Erasmus het ondersteuners herinner dat sy span net die vierde plek op die Wêreldranglys beklee.

“Daar is spanne soos Engeland en Wallis wat hul skoppe beter kan hanteer. Nieu-Seeland is na my mening die gunsteling. Hulle gaan wel verskillende uitdagings teen spanne van die Noordelike Halfrond hê. Dit voel net of ons nader kruip aan hulle.”

* Die Bokke sal eers later die erns van Trevor Nyakane se kuitspierbesering bepaal. Hy het die veld teen die All Blacks verlaat.