Of hy ná die Wêreldbeker-toernooi as die hoofafrigter aanbly of nie, Rassie Erasmus sal vorentoe ten nouste by die Springbokke betrokke bly.

“Afhangende van wie die hoofafrigter is, is die pos as direkteur van die rugby beslis nie ’n kantoorwerk agter ’n lessenaar om strategie uit te dink nie,” het Erasmus geantwoord op ’n vraag of hy steeds in 2021 die Bokke teen Warren Gatland se Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika sal afrig.

“Ek sal teen die Britse en Ierse Leeus as SA Rugby se direkteur van rugby betrokke wees.

“Dit sal beslis ’n werk wees waar ek my moue meer oprol. Ek sal baie nou met die hoofafrigter saamwerk.

Rassie Erasmus skryf Warren Gatland, Wallis se ervare afrigter, hoog aan as breier én mens.Foto: Getty Images

“Ek sal hom (Gatland) in die toekoms sien – ons sal beslis weer meeding.

“Dit is altyd net ’n plesier om met hom mee te ding, want hy is ’n man op en van die veld af.

“Hy verdien al die krediet wat hom toekom.”

Erasmus het in 2018 in ’n SuperSport-onderhoud gesê hy beplan om ná vanjaar se Wêreldbeker as die hoofafrigter klaar te maak, maar sal aanbly in sy rol as direkteur van rugby.

In Donderdag se nuuskonferensie in die Bokke se spanhotel in Tokio, het hy nie ’n presiese aanduiding gegee of hy ná ’n suksesvolle 2019-seisoen sover, wat die Rugbykampioenskapstitel en ’n plek in die halfeindstryd van die Wêreldbeker insluit, van plan verander het om as hoofafrigter aan te bly nie.

Dis wel verfrissend dat die pad vorentoe vir Bok-rugby nie in vanjaar se toernooi so ’n vuurwarm besprekingspunt is as wat dit tydens 2015 se Wêreldbeker-toernooi was nie.

Tydens die vorige toernooi was daar groot onsekerheid oor Heyneke Meyer se toekoms. Fourie du Preez het toe voorgestel dat die Bok-afrigter twee jaar voor ’n Wêreldbeker aangestel word en tot twee jaar daarna afrig om onder meer die spelers duidelikheid oor die pad vorentoe te gee.

As die jongste onder die afrigters wat in die naweek se halfeindstryde betrokke is, mag die 47-jarige Erasmus weer volgende jaar by toetsrugby betrokke wees, maar sy eweknie in Sondag se kragmeting in Jokohama, die 56-jarige Gatland, maak ná die Wêreldbeker as Wallis se breier klaar.

Gatland rig Wallis vanjaar in ’n derde Wêreldbeker-toernooi af en word as sy land se suksesvolste afrigter tot nog toe met drie Grand Slam-titels beskou. Onder hom het Wallis onder meer vroeër vanjaar die eerste plek op die wêreldranglys beklee.

Dis sy 11de jaar as Wallis se hoofafrigter.

Hy sal ná die WB-toernooi na Nieu-Seeland terugkeer, waar hy die Chiefs in volgende jaar se Superreeks afrig. Hy sal in 2021 dan weer al sy aandag aan die Britse en Ierse Leeus gee.

Gatland het in sy speeldae die All Blacks in 17 toerwedstryde as haker verteenwoordig en in 140 wedstryde vir Waikato gespeel. Hy het nooit in ’n toets vir die All Blacks gespeel nie.

Warren is in vele aspekte ’n legende van die spel. Jy sal hom selde in ’n bekgeveg of moddergooiery voor toetse betrokke sien.
Rassie Erasmus

“Warren is in vele aspekte ’n legende van die spel. Jy sal hom selde in ’n bekgeveg of moddergooiery voor toetse betrokke sien.

“Ek hoef nog nooit op iets te gereageer het wat hy gesê het nie. Hy lok jou nie uit om onnodige nonsens voor ’n toets te begin nie. Ek het soveel respek vir hom as ’n mens.

“Sy uitslae op die veld spreek vanself.”

Gatland is nie al een van die vier afrigters in die halfeindronde wat ná die Wêreldbeker met toetsrugby klaarmaak nie.

Steve Hansen, afrigter van die All Blacks.

Die 60-jarige Steve Hansen, Nieu-Seeland se hoofafrigter, se termyn as die All Blacks se hoofafrigter eindig ook dan.

Daar word beweer dat hy vorentoe by die Japannese klubspan Toyota Verblitz betrokke sal raak.

Dis nog onseker wat die 59-jarige Eddie Jones, hoofafrigter van Engeland, se planne ná die toernooi is, maar dit word verwag dat hy in sy huidige posisie sal aanbly.

Engeland en Nieu-Seeland se halfeindstryd vind Saterdag in Jokohama plaas.