Plan A, waarmee die Springbokke ’n oorwinning van 41-7 oor Japan in ’n Wêreldbeker-losmaker in Koemagaja behaal het, het volgens Rassie Erasmus sy vervaldatum bereik.

Hy beplan nie om dit weer in Sondag se kwarteindstryd tussen die lande in Tokio te gebruik nie.

“Ons sal beslis nie weer dieselfde wedstrydplan kan volg nie,” het Erasmus geantwoord op ’n vraag van ’n Japanse joernalis, wat wou weet of die Bokke weer baie sal skop.

“Hul afrigters, Jamie Joseph en Tony Brown, is te skerp daarvoor. Hulle sou ons spel deeglik ontleed en teenvoeters gevind het.

“Ons sal met ’n nuwe plan vorendag moet kom. Dalk is dit ’n plan wat as teenvoeter vir hul vaart en intensiteit dien. Iets waarmee ons by die tempo waarteen hulle speel, kan volhou.

“Ek dink nie Plan A wat in die opwarmwedstryd gewerk het, sal herhaal word nie.”

Japan se sukses in rugby se skouspel, wat oorwinnings oor Ierland en Skotland insluit, verbaas nie die Bok-kamp nie.

“Dit was nie vir ons ’n groot verrassing nie. Nadat ons in die losmaker teen hulle gespeel het, het ons geweet as ons dalk eerste of tweede in Groep B eindig, ons teen hulle in die kwarteindstryd kan speel.

“Ons het verwag dat hulle eerste of tweede in Groep A sou klaarmaak.”

Die gasheerland het volgens Erasmus ook verbeter sedert die losmaker waarin hulle betrokke was. Hy meen al die spanne in die Wêreldbeker het sedert hul eerste groepwedstryde verbeter.

“Ons het sekerlik sedert ons losmaker teen Japan en eerste groepwedstryd teen die All Blacks ook as ’n span verbeter. Dit gaan daarom ’n taai affêre afgee.”

Uit die Bokke se oogpunt was die doel van die losmaker om die spook van Brighton voor die uitkloprondes te verjaag.

“In alle eerlikheid het ons die losmaker teen Japan gereël aangesien ons wou verhinder dat die Brighton-toets ter opbou van ’n moontlike uitklopwedstryd teen Japan ter sprake sou kom,” het Erasmus met ’n glimlag gesê.

Die Nieu-Seelanders Jamie Joseph (links) en Tony Brown is die baasbreine agter Japan se sukses in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi. Foto: Getty Images

“Dis nou een elk. Ons speel nou teen ’n baie goeie span in die kwarteindstryd. Daardie toets in Brighton hoort nou tot die verlede.”

Japan kon in die losmaker net een drie teen die Bokke druk, maar sy aanval het sedertdien verbeter. Die Bokke hoop hul verdediging ook.

“Daar was egter geen druk in die opwarmwedstryd nie. Dit was net ’n opwarmwedstryd. Die wyse waarop Japan die druk in die Wêreldbeker omhels het, is indrukwekkend.

“Die druk sal Sondag groot wees. Dit sal interessant wees hoe albei spanne Sondag die druk van verwagtinge sal hanteer.”

Die Bokke se bestuurspan het in Kobe saam na Japan se toets teen Skotland gekyk. Hulle was eindeloos beïndruk met Japan se vaardighede.

“Wat my veral baie beïndruk, is hoe Japan sy spel afwissel. Teen Skotland het hy die bal net agt keer geskop en teen Samoa 32 keer. Dis is ’n span wat by sy teenstander kan aanpas.

“Teen Ierland het hy ’n bal-in-die-hand-benadering gevolg. Met Tony en Jamie daar, ontleed hulle teenstanders baie goed. Hulle speel ook na hul eie sterk punte en teenstanders se swak punte.

“Hulle is takties skerp, wat Japan ’n moeilike teenstander maak.”