Rassie Erasmus het die Springbokke gewaarsku dat Saterdag se Wêreldbeker-toets teen Namibië in Toyota nie soos ’n “kapteinsoefening” gaan wees nie.

“Ons weet dat ons (in ons groepwedstryde) die gunstelinge teen Namibië en Kanada is,” het die Bok-afrigter gesê.

“Dit beteken nie dit sal vanselfsprekende seges oplewer nie. Ons moet steeds hard oefen en behoorlike ontledings doen.

“As ons tot ons volle vermoë speel, behoort ons te wen. Ek sê dít met die grootste agting teenoor daardie spanne (Namibië en Kanada).”

Spanne hou gebruiklik hul kapteinsoefeninge ’n dag voor die toets. Daardie oefeninge het ’n lae intensiteit, die kaptein is grootliks in beheer van hulle en die spelers loop basies deur sekere van hul bewegings as hulle wil.

Ofskoon die temperatuur in die Bok-kamp weer genormaliseer het ná verlede week se toets teen die All Blacks, het Erasmus beklemtoon die gaping tussen top-toetsnasies en die sogenaamde kleintjies het geweldig gekrimp.

“Jy kry nie meer 70, 80 of 100 punte opgestapel nie. Die eerste week van die toernooi het dit bewys.

“Namibië is ons buurspan en dit gaan ’n fisieke stryd wees. Ons weet dit gaan nie soos in die verlede ’n maklike oorwinning wees nie.”

Die opwindende skrumskakel Herschel Jantjies dra Saterdag die Bokke se nr. 9-trui. Foto: Gallo Images

Erasmus glo dit was ’n berekende besluit om sy ervare haker Schalk Brits as kaptein en agtsteman teen die Namibiërs te kies.

“Om 31 spelers hier te hê vir hopelik agt weke (tot ná die eindstryd), moet jy jou hakers roteer.

“Soms gebeur dit dat jy nie genoeg speeltyd aan jou derdekeuse-haker kan gee nie.

“Hierdie toets het ook vir ons die kans gebied om aan spelers wat vir ons deurslaggewend in die groot wedstryde is ’n ruskans te gee.

“Dis ook vir ons belangrik om vir iemand soos Siya Kolisi 20 of 30 minute se speelkans te gee. Ek glo hy sal daarna gereed wees om vir ’n volle 80 minute te speel.

“Dit was vir ons ewe belangrik om aan Pieter-Steph du Toit en Duane Vermeulen ’n ruskans (teen Namibië) te gee.”

Kolisi het ná sy besering net vir 50 minute teen die All Blacks gespeel voordat hy deur Francois Louw in Jokohama vervang is.

Erasmus beplan om Bongi Mbonami vir 50, 60 of selfs 70 minute teen Namibië los te laat, voordat hy Brits na haker sal skuif.

“Schalk het ’n kalmerende invloed op die sogenaamde randspelers, wat nie die afgelope tyd soveel gespeel het nie.

“Hy sal ’n invloed op hulle hê, hopelik kom hulle die naweek deur.”

Brits (1,82 m), Francois Louw (1,90 m) en Kwagga Smith (1,80 m) se lengte behoort volgens die Bok-afrigter nie Suid-Afrika se lynstaanspel te benadeel, wat Mbonambi se opsies agter in die lynstane betref nie.

“Ons voel ons het nie soveel lynstaanopsies in die wedstryd nodig nie. Ons sal Francois en Kwagga daarvoor gebruik.

“As ons wel in die lynstane sukkel, sal ons iemand soos Franco Mostert opstuur.

“Die lostrio (teen Namibië) gee ons baie vaart oor die veld. Dis ’n voordeel teen ’n Namibiese span wat net wil speel en dit wil geniet.

“As ons in die strik trap om te speel soos hulle wil hê, kan dit ’n pretdag vir hulle wees. Ons moet klinies wees en ons styl op hulle afdwing.”