As die Springbokke al ooit Willie le Roux se ervaring benodig het, is dit volgens Rassie Erasmus, die Springbok-hoofafrigter, in Sondag se Wêreldbeker-halfeindstryd teen Wallis in Jokohama.

Dít nadat Cheslin Kolbe weens ’n enkelbesering nie vir die naweek se kragmeting oorweeg kon word nie.

Le Roux is met 59 toetse die Bokke se mees ervare agterspeler teen Wallis.

Sy vleuels in Kolbe se afwesigheid, Makazole Mapimpi (12 toetse) en Sbu Nkosi (tien), is in toetsterme nog groentjies.

Hoewel Kolbe nog nie baie toetse op sy kerfstok het nie, het hy wel al in Superrugby en in die Franse Top14-liga baie meer ervaring as Nkosi en Mapimpi opgedoen.

Makazole en Sbu mag dalk nie ervare wees nie, maar hulle doen hul werk.
Rassie Erasmus

“Makazole en Sbu mag dalk nie ervare wees nie, maar hulle doen hul werk,” het die Springbok-hoofafrigter gesê.

“Dit (gebrek aan ervaring) is hoekom dit in vele opsigte belangrik is om ’n koelkop soos Willie s’n, wat tans onder kritiek deurloop en ons verstaan waarom, tussen die vleuels in ’n halfeindstryd te hê.

“Hy moet met dinge soos verdediging, skopwerk en vir die senuwees help.”

Rassie Erasmus, afrigter van die Springbokke. Foto: Gallo Images

Erasmus is opgewonde oor die waarde wat Mapimpi en Nkosi in die halfeindstryd kan toevoeg.

“Vir ons is vleuels daar om drieë te druk.

“Toe ons klein seuns was, moes die vleuels drieë druk en dit gebeur tans in ons span. Dis wonderlik dat dit gebeur. Dis lekker dat ons die bal by die vleuels kry en dat hulle drieë druk.

“Sbu het ’n goeie rekord as driedrukker, Cheslin ook. Selfs Aphiwe Dyantyi toe hy (verlede jaar) vir ons gespeel het. Makazole doen dieselfde.”

Mapimpi is met vyf drieë tans die gesamentlike voorste driedrukker in die Wêreldbeker-toernooi.

Cobus Reinach en Bongi Mbonambi het elk drie drieë gedruk.

Suid-Afrika se 30 drieë is ook sover die meeste in die toernooi, gevolg deur die All Blacks op 29.

Die twee ander spanne in die naweek se halfeindstryde, Engeland en Wallis, het onderskeidelik 21 en 19 gedruk.

Engeland kom Saterdag in Jokohama teen Nieu-Seeland in die eerste halfeindstryd te staan.

Nieu-Seeland en Engeland het wel ’n wedstryd minder as die Bokke gespeel nadat hul onderskeie laaste groepwedstryde gekanselleer is weens die supertifoon Hagibis.