Die Springbokke is nie uitgeslaan nie, al het die All Blacks gister se eerste armdruk-toets in die stryd om die Wêreldbeker gewen.

So het Rassie Erasmus gisteraand gesê, al het die Bok-span op die veld gelyk soos ’n Datsun 1200 bakkie met ’n opgezoepte V12-enjin.

Voor het hulle alles platgemaak, maar die bakwerk was pieperig kwesbaar en dun.

Erasmus glo egter die Springbokke het dit in hulle om ná gister se nederlaag van 23-13 teen die All Blacks in Jokohama terug te veg om die Wêreldbekertoernooi te wen.

“Ja, ek glo ons kan terugveg,” het Erasmus ná die toets in die International-stadion gesê.

Erasmus sal egter moet ag slaan dat die Bok-span net te veel lyk na ’n Datsun 1200 bakkie met ’n V12-enjin.

“Ek het selfs gedink ons het tydens die toets teruggeveg. In die verlede sou ’n Bok-span met meer as 50 punte teen hulle verloor het.

“Ons het vanaand in ’n stadium swak geskop, maar die ouens het ongelooflik goed teruggeveg.

“As jy in dieselfde groep as die All Blacks geloot is, bestaan daar ’n goeie kans dat jy nie onoorwonne deur die groepfase gaan kom nie.

“ ’n Mens moet dan terugveg, selfs al beteken dit dat jy tot die eindstryd deur sal dring sonder dat jy onoorwonne in die groepfase was. Ons moet eenvoudig nou dié roete vat.”

Die nederlaag is egter ’n terugslag vir die span se selfvertroue. ’n Verdere terugslag is die kuitbesering wat kan maak dat Trevor Nyakane se Wêreldbekertoernooi verby is.

As die Bok-stut weens sy besering huis toe moet keer, sal een van Coenie Oosthuizen of Thomas du Toit hulle by die Bokgroep aansluit.

Die Bok-kamp kon nie dadelik ná die nederlaag in Jokohama se International-stadion bevestig of Nyakane huis toe gaan nie.

Hy is in die 55ste minuut as ’n plaasvervanger vir Frans Malherbe opgestuur, maar moes dit in die 76ste minuut weer verlaat.

Nyakane het vroeër sy knie in ’n Wêreldbeker-losmaker teen Japan seergemaak, maar sy fiksheid betyds bewys om teen die All Blacks te speel.

Du Toit het voor Oosthuizen in die Bok-tou gestaan. Hy is veelsydig genoeg om aan albei kante van die skrum te sak.

Aangesien Nyakane die afgelope tyd net as vaskop gekies is, kan Erasmus egter besluit om eerder ’n spesialisvaskop soos Oosthuizen te betrek.

Daar bestaan juis kommer oor Malherbe se vorm.

Hy skrum sterk, maar is in die vastelos nog die skaduwee van die vaskop wat hy in 2015 se Wêreldbeker was toe hy Jannie du Plessis uit die beginspan gespeel het.

Oosthuizen was met die aanwysing van die finale 31-tal vir die Wêreldbeker een van die ongelukkiges om nie gekies te word nie. Sy spel in die vastelos is die beste van enige van die Suid-Afrikaanse vaskoppe.

Erasmus het ook die opsie om Wilco Louw te oorweeg. Louw was soos Du Toit vroeër vanjaar in die Bokke se planne.

Louw is ’n sterke derduiwel in die skrums.

Ná Nyakane se besering behoort Vincent Koch die vaskop in Saterdag se toets teen Namibië te wees, tensy Erasmus besluit om Malherbe meer speelkans te gee.

Koch sou teen die All Blacks gespeel het as Nyakane nie betyds herstel het nie.

Alhoewel teleurgesteld met sy span se nederlaag, het Erasmus gisteraand Cheslin Kolbe as een van die spelers uitgesonder wat meer as net sy kant gebring het.

“Die span se toewyding was daar en Cheslin was een van die spelers wat hand opgesteek het.”

Sy span se dissipline het Erasmus gepla. Volgens Wêreldrugby se statistieke wat ná die toets aan die rugbyskrywers uitgedeel is, het die Bokke nege strafskoppe teenoor die All Blacks se vier afgestaan.

“Die Bokke het nie die toets verloor nie, die All Blacks het dit gewen. Dissipline was ons grootste probleem,” het ’n teleurgestelde Erasmus gesê.

Die All Blacks se twee drieë in die toets het volgens Erasmus ná foute deur die Bokke gevolg.

“Hulle is meesters om teenstanders se foute uit te buit.

“Die uitslag het ons nou onder druk geplaas. Die Italiaanse groepwedstryd gaan taai wees. Ons moet eers verby ons groep kom voordat ons aan die kwarteindstryd kan dink.”

Die Bok-afrigter het die All Blacks se jong vleuels, Sevu Reece en George Bridge as van hul sterre uitgesonder.

“Hulle (die vleuels) was uitstekend. Kyk, Nieu-Seeland het sonder twyfel verdien om te wen.

“Ek sou nie sê die telbord vlei ons nie. Maar as hulle teen die einde ’n drie gedruk het, het hulle ons ’n pak slae gegee.”

Erasmus het ondersteuners herinner dat sy span slegs die vierde plek op die wêreldranglys beklee.

“Daar is spanne soos Engeland, Ierland en Wallis wat hul (Nieu-Seeland) skoppe beter kan hanteer.

“Nieu-Seeland is na my mening nietemin die gunsteling.

“Hulle gaan wel verskillende uitdagings teen spanne van die Noordelike Halfrond hê. Dit sal interessant wees hoe hulle dit hanteer.

“Dit voel net asof ons nader kruip aan hulle (Nieu-Seeland).”

  • Die Bok-afrigter het in die nuuskonferensie gesê die flank Pieter-Steph du Toit het ’n harde stamp teen die knie weg. Dit is onduidelik hoe ernstig die besering is.
‘Pollard moet beheer neem’

Handré Pollard moet sy stempel meer op die spel afdruk, veral as hy as Suid-Afrika se generaal gesien wil word.

Die voormalige Springbok-senter Marius Joubert, wat ’n driekuns aan drieë in ’n wedstryd teen die All Blacks behaal het, voel die skrumskakel, Faf de Klerk, is te veel in beheer van die spel en Pollard moet, as die losskakel, meer beheer neem.

“Ons het ’n goeie eerste 20 minute gehad, goeie balbesit en gebiedsvoordeel geniet. Ons was taamlik klinies in die eerste 20 minute en toe het dit gedraai toe Pollard ’n strafdoel verbrou het,” sê Joubert.

“In die tweede 20 minute het ons onnodig balbesit weggeskop, en Faf wou die generaal wees. Ek voel Handré moet meer sy stempel afruk op die spel, wat nie gebeur nie.

“Oor die algemeen het ons goed gespeel. Ons was net nie geduldig toe ons in die regte gedeeltes van die veld was nie.

“Die All Blacks het weer gewys hulle het net twee of drie geleenthede nodig om ’n wedstryd te wen. Die twee drieë het ons seergemaak en dit is moeilik om opvangrugby teen die All Blacks te speel.

“Daar is wel genoeg goeie punte om nie in sak en as te gaan sit nie. Ek dink die telling kon nader gewees het.

“ ’n Oorwinning sou goed wees vir ons, maar ’n naelbytwedstryd is ook goed vir ons.

“Daar is goed om aan te werk. Die All Blacks was kwesbaar en ons moes die geleenthede wat ons gehad het, benut het.”

Joubert voel die skeidsregter, Jerome Garces, was nie so swak soos wat ondersteuners sê nie en Cheslin Kolbe was verreweg die Bokke se superster.

“Ek wil my nie oor die ref uitlaat nie, Jerome het een van sy beter wedstryde gehad, maar daar was hier en daar ’n beslissing wat 50-50 was. Die Bokke sal nie in sak en as gaan sit nie. Kolbe was uitstekend, maar Makazole Mapimpi was stiller, veral op verdediging, en ook Willie le Roux.” – Brenden Nel