Rassie Erasmus gaan Japan met twee stelle vaste voorspelers in Sondag se Wêreldbeker-kwarteindstryd in Tokio pak.

Hy doen dít as ’n teenvoeter vir Japan se vermoë om met sy beweeglike spelers ruimte óm moeë en groot voorspelers van sy teenstanders te skep.

“Baie mense sal oor ons bank van ses voorspelers en twee agterspelers dink dat ons baie voorspeler-gedrewe sal wees om te probeer oorheers. Dit is aan die een kant waar,” het hy gesê.

“Aan die ander kant het ons ses voorspelers gekies omdat Japan vanweë sy speelstyl jou groot en moeë voorspelers aan die einde van die eerste en tweede helftes wil ontbloot.

“Ons dink met ons spankeuses van twee stelle vaste voorspelers kan ons die ruimte wat hulle in die wedstryd wil benut, tot niet maak.”

Dít, Japan se vermoë om groot en moeë voorspelers op die aanval te teiken, is iets wat uitgestaan het in hul suksesvolle groepfase van die toernooi wat seges oor Skotland en Ierland insluit.

“Die tweede rede waarom ons die 23-tal gekies het, is omdat dit die beskikbare spelers met die beste spelpeil is.

“Derdens wil ons na ons sterkpunte speel wat fisiekheid, dryfmaalbewegings en vaste fasette soos skrums insluit.”

Erasmus het dit onderstreep dat die Bokke die toets teen hulle tempo wil speel en dat hy dieselfde van Japan verwag. Hy voorspel daarom ook ’n taktiese stryd tussen die afrigtingspanne.

Erasmus erken hy moes wel moeilike besluite met sy 23-tal neem aangesien verskeie spelers hul kans soos Cobus Reinach teen Kanada gebruik het.

“Ons is nou 17 weke bymekaar. Die spelers het van die begin af geweet wat hul speelkanse in die toernooi betref.

“Ons het die harde gesprekke al gehad voordat ons na die Wêreldbeker gekom het. Dis taai vir die ouens wat weet daar is drie weke oor en hulle sal dalk nie weer in ’n wedstryd speel nie.

“Hulle was egter almal deel van die reis van 17 weke. Hulle sal almal teen die einde daar wil wees wanneer ons hopelik die trofee kan lig.”

Cobus Reinach is een van die ongelukkiges wat nie die 23-tal vir die kwarteindstryd teen Japan gehaal het nie. Foto: Gallo Images

Die agt wat nie teen Japan speel nie, beïndruk Erasmus nietemin met hul positiewe gesindheid.

“Hulle is almal goed in daardie opsig. Dit bly egter moeilik om vir agt spelers wat nie in die 23-tal is nie te sê dat hulle nie speel nie.

“Dit was nie so eenvoudig nie, aangesien baie spelers hul hande (in die sogenaamde B-span) opgesteek het.

“Ons wou egter bestendigheid gehad het. Ná wat ons teen Italië bereik het, ons kombinasies in ag genome en strewe na bestendigheid, het ons gedink dis die beste span om te kies.”

Erasmus het tydens Donderdag se nuuskonferensie ook verduidelik waarom hy Bongi Mbonambi in sy beginspan en Malcolm Marx op sy plaasvervangerbank ingesluit het.

Hy beskryf dié tweetal en Schalk Brits as hakers van wêreldgehalte.

“Bongi is ’n meer fisieke speler en ’n sterk skrumwerker. Hy is die heeltyd in jou gesig.

“Malcolm bied jou baie soortgelyke eienskappe, maar wanneer spel in die tweede helfte lostorring en hy daar is behoort dit tot die span se voordeel te wees.”