Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, kan tot agt veranderinge aan sy 23-tal vir Saterdag se Wêreldbeker-kragmeting met Namibië in Toyota aanbring.

Hy kan almal wat nie teen die All Blacks gespeel het nie – Schalk Brits, Vincent Koch, Lood de Jager, Kwagga Smith, Cobus Reinach, Elton Jantjies, S’bu Nkosi en Warrick Gelant – hul eerste speelkans in vanjaar se rugbyskouspel gee.

Dít was reeds voor die aanvang van die WB-toernooi sy plan en nie in reaksie op Saterdag se nederlaag van 13-23 teen die All Blacks in Jokohama nie.

Die Bok-afrigter se toernooi-beplanning was om sy sterkste 23-tal teen Japan, die All Blacks en Italië te laat speel.

Spelers soos die slot Lood de Jager, wat nie in die Springbokke se 23-tal teen die All Blacks in aksie was nie, sal na verwagting teen Namibië ingespan word. Foto: Gallo Images

Die spelers wat nie in dié wedstryde kans kry nie, sal teen Namibië en Kanada speel.

Erasmus sal uiteraard sy sterkste span in die uitkloprondes laat speel, sou die Bokke met Namibië, Italië en Kanada afreken om deur te dring.

Soos sake tans staan, kan Ierland die Bokke in ’n moontlike kwarteindstryd ontmoet nadat hy Skotland Sondag oortuigend met 27-3 geklop het.

Soos die geval vroeër vanjaar teen die Wallabies op Ellispark en teen Argentinië op Loftus Versfeld was, kan van die Bokke wat in Jokohama op die bank gesit het ook in die beginspan teen Namibië ingesluiit word.

Die Bokke kom ná die toets teen Namibië reeds volgende Vrydag in die Shisoeka-stadion teen Italië te staan, wat beteken dat hulle ’n dag minder het om te herstel.

In die laaste twee toetse wat Suid-Afrika en Namibië slaags was, het die Bokke met 105-13 in 2007 in die Kaap en met 87-0 in North Harbour in 2011 geseëvier.

Onsekerheid bestaan intussen nog oor die erns van Trevor Nyakane se kuitspierbesering.

Dié vaskopstut is in die 55ste minuut van die toets teen die All Blacks as plaasvervanger vir Frans Malherbe opgestuur, maar moes dit noodgedwonge weer in die 76ste minuut weens sy besering verlaat.

Die Bok-kamp was dadelik ná die eindfluitjie nie baie positief oor sy verdere deelname aan rugby se skouspel nie.

Nyakane, Malberbe en Koch is die drie vaskoppe in die groep.

Aangesien Nyakane die afgelope tyd hoofsaaklik vaskop gespeel het, bestaan die moontlikheid dat die Bokke ’n spesialis-vaskop soos Coenie Oosthuizen kan ontbied.

Trevoer Nyakane se gesig vertel die verhaal nadat hy die veld Saterdag met ’n kuitbesering moes verlaat.Foto: Getty Images

Wilco Louw en Thomas du Toit sal ook oorweeg word as Nyakane wel huis toe gestuur word. Louw is ook ’n spesialis-vaskopstut, terwyl Du Toit aan albei kante van die skrum kan sak.

Die Bok-kamp het ook nog nie aangedui hoe ernstig die stamp is wat Pieter-Steph du Toit teen sy knie teen die All Blacks weg het nie.

Du Toit het behandeling vir die besering ontvang tydens die wedstryd, maar het voortgespeel.

* Nóg ’n Fransman, Mathieu Raynal, is die skeidsregter in die toets teen Namibië. Dít volg nadat Jérôme Garcès Saterdag teen die All Blacks die fluitjie gedra het.

Garcès se hantering van die afbreekpunte is ná die Bok-nederlaag wyd gekritiseer.

Engeland se Wayne Barnes sal die Bokke se toets teen Italië hanteer.