Sy een groot wens vir Suid-Afrikaanse rugby is dat daar nie weer 12 jaar gewag gaan word om die Wêreldbeker te wen nie.

Rassie Erasmus, die afrigter van die seëvierende Springbokke, het Dinsdagaand kort ná sy terugkeer na Suid-Afrika gesê die euforie wat die volgende week of twee nog sal voortduur, moenie weer kortstondig en dan vir omtrent ’n dekade op die agtergrond wees nie.

“In 1995 en 2007 het ons sukses behaal, maar kon dit nie volhou en ’n gewoonte daarvan maak nie. Nou wil ek sien dat die sukses wat hierdie groep in Japan behaal het ’n gewoonte word en die volgende paar jaar voortduur.

“Vir die volgende Wêreldbeker oor vier jaar moet die Springbokke weer ’n sterk aanspraakmaker wees en die titel met oorgawe kan verdedig.

“Ons moet daarop fokus dat wen nou die wagwoord gaan wees en daarom gaan bestendigheid die kernbegrip moet wees,” het hy gesê.

Erasmus het gesê dit waarop hy sy kop voor die toernooi gesit het, was om nie die fout te maak om met onfikse spelers Wêreldbeker toe te gaan nie.

“Ek was self in my speeldae ’n slagoffer daarvan en kon dus van ervaring praat,” het hy gesê.

“Vir my was dit baie belangrik dat elkeen fiks en slaggereed moes wees. In die verlede is die fout gemaak om spelers wat nie 100% fiks was nie na ’n Wêreldbeker-toernooi te neem. Ek wou beslis nie in daardie slaggat trap nie,” het Erasmus gesê.

Die een uitsondering was egter sy belangrikste speler, die kaptein, Siya Kolisi. Hy is die enigste een op wie ons ’n bietjie van ’n kans gewaag het.

“Siya was die een oor wie ’n vraagteken gehang het. Gelukkig het hy een Curriebeker-wedstryd vir die Westelike Provinsie gespeel en toe daardie toets teen Argentinië.

“Dit was egter só belangrik om hom daar te hê. Sy spelpeil in die eerste twee wedstryde was nie waffers nie. Ons moes hom slim gebruik en tydig in daardie eerste paar wedstryde vervang.

“In die laaste drie wedstryde was hy uitstaande. Vroeg in die jaar was Siya se fiksheid en sy spelpeil regtig vir my ’n bron van kommer, maar hy het ons uiteindelik glad nie in die steek gelaat nie en was die staatmaker wat ons weet hy is,” het Erasmus gesê.