Die Springbokke se oornagsukses met hul oorwinning van 32-12 oor Engeland in Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd in Jokohama is danksy maandelange beplanning tot in die fynste detail deur Rassie Erasmus en sy afrigtingspan.

Die Bokke was die res eenvoudig net vooruit wat beplanning betref.

Toe die Bok-afrigter ná die eindstryd oor Suid-Afrika se oorheersings in die skrums uitgevra is, het hy die kollig op hul beplanning geskuif.

“Ek wil nou nie slim klink nie, maar dís (skrumoorheersing) te danke aan ons benadering en wyse hoe ons die vorige wedstryde gespeel het,” het Erasmus gesê.

Ek wil nou nie slim klink nie, maar dís (skrumoorheersing) te danke aan ons benadering en wyse hoe ons die vorige wedstryde gespeel het.
Rassie Erasmus

“Die bank met ses voorspelers en twee agterspelers het ons in ’n posisie geplaas om ons spelers baie goed te bestuur.

“Al ons stutte (wat in die eindstryd gespeel het) het min of meer dieselfde speelkans deur die loop van die Wêreldbeker gekry.

“In Engeland se geval het spelers soos Kyle Sinckler ’n swaar vrag gedra deur 60 tot 70 minute in elke wedstryd te speel, miskien het dit hulle gebyt.

“Daar was vir ons geen moegheid-element in die skrums nie, hoewel dit miskien vir hulle was.

“Ons ouens is spaarsamig gebruik, so hulle was baie vars en gereed om voluit te speel. Dit het vanaand (Saterdagaand) vir ons gewerk.

“Spelerbestuur het ons ten opsigte van moegheid bevoordeel.

Dan Cole
Dan Cole het swaar geleef teen Beast Mtawarira.

“Dan Cole (wat die beseerde Sinckler in die derde minuut vervang het) het vanaand (Saterdagaand) ’n harde tyd gekry, maar hy is nie ’n slegte skrumwerker nie. Ons ouens is net vars en dit maak ’n groot verskil.”

Dis klein aspekte soos die wat beplanning deur Erasmus-hulle betref, wat ’n groot verskil tussen sukses en mislukking in die Wêreldbeker beteken het.

Daar is verskeie voorbeelde van Erasmus-hulle se beplanning wat die Suid-Afrikaners van die res s’n onderskei het.

Die Bokke het met die oog op die Wêreldbeker byvoorbeeld eerste van al die spanne in Japan aangekom.

Hulle was ook die enigste span wat in Japan in ’n losmaker voor die Wêreldbeker gespeel het.

Vir moontlike sukses soos die geval teen Engeland was, het Erasmus aan sy spelers gesê dat hulle teenoor die res moet opvang en minstens 20 weke moet saam wees om Wêreldbeker-glorie te smaak.

Dis nou week 19. Week 20 is volgende week en was altyd deel van Erasmus se beplanning om ná die toernooi met die Wêreldbeker deur Suid-Afrika te toer.

Dis nou week 19. Week 20 is volgende week en was altyd deel van Erasmus se beplanning om ná die toernooi met die Wêreldbeker deur Suid-Afrika te toer.

Erasmus het min stilgesit in die 618 dae wat hy sedert sy aanstelling tot die Wêreldbeker gehad het.

Hy het onder meer belyningskampe tydens die Suid-Afrikaanse Superrugbyspanne se loslootjies gehou om die spelers wat deel van sy planne was op hoogte van hul beplanning met die oog op die Wêreldbeker te bring.

Afgesien van die belyningskampe, het hy steeds die tradisionele oefenkampe gehou.

Hy wou net soveel moontlik tyd saam met die spelers deurbring en verseker dat hy en sy afrigters se stemme nie vreemd tydens die Wêreldbeker vir die Bokke is nie.

Die Bok-bestuurspan se langtermynbeplanning was eenvoudig uitstekend en dit het sukses in die Wêreldbeker meegebring.

Die wyse hoe Erasmus tydens die Rugbykampioenskap bereid was om die diepte in sy groep uit te bou en met ’n sogenaamde B-span teen die Wallabies op Ellispark en later teen Argentinië op Loftus Versfeld te speel, was alles deel van die slim beplanning.

YOKOHAMA, JAPAN - NOVEMBER 02: Cheslin Kolbe of So
Cheslin Kolbe word deur Handre Pollard, RG Snyman en Franco Mostert om die hals geval na hy die Springbokke se tweede drie gaan druk het. (Gallo Images)

Daardie sogenaamde B-span het ’n belangrike taak in die Wêreldbeker gehad. Hul bydrae in die Bokke se groepwedstryde teen Kanada en Namibië was eindelik byna net so belangrik as die A-span s’n in die Suid-Afrikaners se verowering van die William Webb Ellis-trofee.

Dis nie 23-talle wat Wêreldbekers wen nie, maar groepe. Die Bokke moes tydens rugby se skouspel die terugslae van Jesse Kriel en Trevor Nyakane oorkom en in die halfeindstryd teen Wallis op iemand soos S’bu Nkosi se knoppie druk terwyl Cheslin Kolbe van ’n enkelbesering herstel het.

Erasmus besef ook hoe belangrik beplanning vorentoe is as die Bokke die golf van hul sukses in Japan vir ’n tydperk wil ry.

Hy wil juis, soos die geval ná 1995 en 2007 se sukses was, verhinder dat daardie golf vinnig uitspoel.

Hy kon daarom dadelik ná Saterdagaand se eindstryd aan die media sê dat daar sowat 614 dae voor die besoek van die Britse en Ierse Leeus aan Suid-Afrika is.

Dís hoe deeglik sy beplanning is.