In die oomblikke tussen die ontvangs van sy goue medalje en die lig van die Webb Ellis-trofee Saterdag in Japan het Siya Kolisi baie hard probeer om sy afrigter, Rassie Erasmus, saam met hom op die podium te kry.

“Ek het hom gesmeek om saam met my te gaan wanneer ek die trofee gaan kry en dit saam met my te lig, maar hy wou niks weet nie,” het Kolisi Dinsdagaand ná die seëvierende Springbokspan se terugkeer van die Wêreldbeker-toernooi by die O.R. Tambo-lughawe gesê.

“Ek het net gevoel hy en al die ander afrigters het regtig hard gewerk en ons wou daardie oomblik ook met hulle deel. Maar hy wou niks oor homself maak nie, hy het gesê dis die spelers se oomblik.”

As ek op my verjaardag een wens kan kry, sal ek wens om ook op dae wat nie my verjaarsdag is nie te sien wat ons vandag gesien het.
Rassie Erasmus

Daardie patroon het by die perskonferensie voortgeduur toe Erasmus, wat Dinsdag sy 47ste verjaarsdag gevier het, gevra is of hy verwag het om met tonele soos dié by die O.R. Tambo-lughawe bederf te word op sy spesiale dag.

“Dit moenie oor my gaan nie,” het Erasmus geantwoord. “Siya en die spelers moet hierdie glorie nou geniet.

“Maar as ek op my verjaarsdag een wens kan kry, sal ek wens om ook op dae wat nie my verjaarsdag is nie te sien wat ons vandag gesien het. Hoe swart en wit, mense van verskillende gelowe, mense met watter verskille ook al, dit kan opsy skuif en bymekaar kom.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - NOVEMBER 05: Siya Ko
Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, die Springok-afrigter, Rassie Erasmus, en Nathi Mthethwa, minister van sport en kultuur, met die Web Ellis-trofee. Foto: Gallo Images

“Ons Wêreldbeker-sukses moet dien as ’n lanseerkussing waarmee ons moet seker maak ons gebruik die geleentheid – wat daar ook in 1995 en 2007 was (om ware eenheid te bewerkstellig). Ons moet seker maak ons mis nie weer die geleentheid soos toe nie.

“Nou wil ek hard werk saam met SA Rugby, in my posisie as direkteur van rugby… dis dinge wat ek nog eers met my base moet uitklaar, maar wat ek wil sien is dat ons seker maak ons gee almal nou gelyke kanse, almal het goeie voeding, almal word regverdig behandel. Daar is soveel goed wat ons moet regstel en ons kan nie net op die Springbokke fokus nie. As ons alles net maak oor die Springbokke gaan ons weer 12 jaar wag om ‘n Wêreldbeker te wen.”