Rassie Erasmus, Springbok-breier, vier vandag sy 47ste verjaarsdag terwyl hy en die Springbokspan onderweg is terug na Suid-Afrika ná die span se oorwinning die naweek oor Engeland in die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan.

“Daar is nie ’n beter manier om jou verjaarsdag te vier nie (al is dit ’n paar dae nadat die beker gelig is). Veels geluk, Rassie Erasmus,” lui ’n inskrywing op die Springbokke se amptelike Twitter-rekening.

Die Springbokke het ’n foto van Erasmus wat die Webb Ellis-trofee in die lug hou, by dié inskrywing geplaas.

Die hele span vlieg nie saam nie en die laaste spelers keer eers Woensdag van Japan af terug.

Die eerste vlug met Pieter-Steph du Toit, Duane Vermeulen, Cheslin Kolbe en Makazole Mapimpi kom na verwagting Dinsdag om 17:30 op die O.R. Tambo-lughawe aan. Erasmus en Siya Kolisi, Springbok-kaptein, is op 'n vlug via Sydney, Australië, en gaan nou weens tegniese probleme met die vliegtuig eers om 19:00 land.

Kolisi het Erasmus op Instagram gelukgewens met ’n spesiale boodskap waarin hy die afrigter bedank vir die vertroue wat hy in hom gehad het.

“Ek kan nie genoeg vir jou dankie vir alles sê nie! Jy het in my geglo toe ek nog op skool was, terwyl ek onder jou by die Westelike Provinsie gewerk het. En nou deel ons hierdie oomblik vir ewig saam.”