Rachelle Wilson, klankoperateur van die NG kerk Berg-en-Dal in Bloemfontein, by die kerkbank waar Rassie Erasmus altyd gesit het. Foto: Verskaf

Rassie Erasmus was ’n gewone lidmaat in sy kerk; net ’n doodgewone ou, sê ds. Jan Lubbe van die NG kerk Berg-en-Dal in Dan Pienaar, Bloemfontein.

Erasmus het die kerk besoek as rugbyspeler vir die Vrystaat Cheetahs en later as afrigter van die span wat in 2005 die eerste keer in 29 jaar die Curriebeker kon wen.

“Hy het altyd so min of meer op dieselfde plek gesit,” sê Lubbe.

Hy sê hy het Erasmus redelik goed leer ken en ook by die Erasmus-gesin huisbesoek gedoen.

“Rassie het my opgeval as ’n sagte en nederige mens, maar ook as ’n spontane ou,” sê hy.

Lubbe sê hy kan nie onthou hoe lank Erasmus lid van sy gemeente was nie, maar dit was in die vroeë 2000’s totdat hy weg is Kaap toe.

“Die Vrystaat se Curriebeker-oorwinning oor die Bulle in 2005 was geweldig, dit was jammer toe hy hier weg is.”

Hy sê dit is regtig jammer die Springbokke se kampioene-toer kom nie ook na Bloemfontein nie.