Die Springbokke aanvaar die kritiek oor hul vervelige wedstrydplan en Rassie Erasmus het Dinsdag die versekering gegee dit sal sy aandag geniet.

Die Bokke sal Saterdag met groter afwisseling speel, maar sal volgens hul afrigter nie afwyk van die wedstrydplan wat hulle ’n plek in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland in Jokohama verseker het nie.

“Ons aanvaar daar is sekere aspekte van ons spel wat ons moet verbeter,” sê Erasmus.

“Ons sal dit verbeter, maar ons voel ons het onsself nou in ’n posisie geplaas om die Wêreldbeker te wen.

“Ek dink as iemand verstaan van waar ons kom op die sesde of sewende plek op die ranglys, het ons sekere uitdagings gehad.

“Om daarin te slaag moet jy sekere boustene instel en ’n sekere roete volg.

“Jy probeer die spel speel hoe dit deesdae geblaas word en volgens statistieke. En wat jou op kort termyn goeie uitslae op die telbord verseker.

“Ja, ons aanvaar die kritiek, maar is terselfdertyd gelukkig dat ons in ’n Wêreldbeker-eindstryd kan meeding. Dit is presies waar ons wil wees.”

Bok-ondersteuners wil meer drieë sien, soos die vyfpunter deur Makazole Mapimpi teen Japan. Foto: Getty Images

Een van Erasmus se doelwitte was om weer ’n span te word om mee rekening te hou.

Die Bokke het voor die halfeindstryd teen Wallis gesê hulle wil weer die eerste of tweede plek op die wêreldranglys beklee wat die geval ná die sege oor die Rooi Drake is.

Die Bokke beklee die tweede plek op die jongste ranglys met Engeland in die eerste plek.

Die Bokke het net twee dae se oefening oor voor die eindstryd met ondersteuners wat grootliks dieselfde wedstrydplan Saterdag moet verwag aangesien daar nie genoeg tyd vir grootskaalse veranderinge is nie.

“Maar die wyse hoe ons teen verskillende spanne voor die Wêreldbeker gespeel het, het beslis verskil.

“Ons het byvoorbeeld teen Japan wat Ierland en Skotland van hul voete gehardloop het, verskeie drieë gedruk en hul met ’n spesifieke taktiek toegelaat om net een teen ons te behaal.

“Nieu-Seeland kon net twee drieë in vier minute teen ons druk en geen daarna behaal nie.”

Die Bokke en Engeland was nou in vier toetse met Erasmus en Eddie Jones as hoofafrigters betrokke. Die telling is 2-2.

“Die laaste toets teen Engeland was ’n naelbytstryd op Twickenham.

“Ek weet albei spanne het sedertdien verbeter. Ons sal uitgaan om te kyk hoe ons hulle kan verhinder om punte te behaal.

Erasmus verwag nie ’n bekgeveg tussen hom en Jones voor die eindstryd nie.

“Ek het nou al in vier toetse teen Eddie afgerig en daar was geen gesprekke via die media tussen ons nie.

“Ek verwag dieselfde opbou vir die toets, hoewel hy ons kan verras.

“Wat ek van Eddie op die veld verwag, is ’n goed afgerigte span.

Die fisiekheid waarmee Engeland teen die All Blacks gespeel het, was volgens Erasmus ongehoord en van ’n volgende vlak.

“Ek het lanklaas ’n Engelse span met daardie soort fisiekheid sien opdaag. Hulle moet vol selfvertroue wees en met dieselfde intensiteit in die eindstryd wil speel.

“Ons sal ’n antwoord daarvoor moet hê.

“Engeland plaas spanne vanweë hul lynspoed onder groot druk met hul verdediging, iets waarmee John Mitchell baie te doen het.

“Hulle gee jou geen ruimte of tyd nie. Ons doen dieselfde, so dit is iets waaraan ons op die oefenveld gewoond geraak het.”

Die Bokke oefen vanmiddag op die Japanse klubspan Shining Arcs se veld in Tokiobaai en het Woensdag hul laaste oefening op dieselfde veld.

Erasmus kondig sy span Donderdag aan.

Hy het vandag gesê sy 23-tal sal met die moontlike insluiting van Cheslin Kolbe nie veel verskil van die een wat teen Wallis in die halfeindstryd betrokke was nie.