Daar is volgens Kieran Read niks uitsonderliks aan die wyse hoe die Springbokke speel nie.

“Ook ons doen niks spesiaal nie. Die Bokke doen net wat hulle doen baie goed,” het die All Black-kaptein Donderdag op ’n nuuskonferensie by hul spanhotel in Tokio gesê.

“Hulle is baie fisiek. Skop baie goed. Hulle wend hul sterkpunt – dryfmaalbewegings – baie goed aan om punte aan te teken. Hulle het ook nou die vermoë om met omgekeerde balbesit hul agterlyn meer in die spel te bring.”

Read sê hulle weet wat wag.

“Ek dink wel ons is in ’n goeie posisie om met ’n plan as teenvoeter vorendag te kom.”

Kieran Read. Foto: Getty Images

Read glo nie die oomblik sal te groot vir sy span in Saterdag se Wêreldbeker (WB)-groepwedstryd in Jokohama wees nie.

“Ons weet alle WB-wedstryde verskil van mekaar. Dié een gaan egter een van die groter wedstryde in jou loopbaan wees,” sê hy.

“Dis ’n wonderlike uitdaging, ’n enorme toets. Ons as All Blacks moet egter gereeld sulke groot toetse trotseer.”

Op ’n persoonlike noot sien Read uit na sy tweestryd met Duane Vermeulen, wat Saterdag in sy 50ste toets speel.

“Ek dink ekself het al in 50 toetse teen Duane gespeel,” skerts Read.

“Ek is verras, ek het gedink hy het al in baie meer toetse gespeel. Hy is ’n puik mens. Hy is baie aggressief en groot. Hy geniet dit om die bal sterk te dra en duik hard. Ek geniet daardie uitdaging. So, geluk aan hom.”

Die 33-jarige Read (109 kg en 1,93 m teenoor Vermeulen se 117 kg en 1,93 m) dink dis waarskynlik die eerste keer dat hy die grootste losvoorspeler in die Kiwi’s se beginspanlostrio is.

Hy, Sam Cane (103 kg en 1,89 m) en Ardie Savea (99 kg en 1,90 m) vorm in Jokohama ’n kombinasie.

Die Bokke se ander beginspanlosvoorspelers is Pieter-Steph du Toit (119 kg, 2,00 m) en Siya Kolisi (106 kg, 1,87 m).

Savea was nie in die gelykop toets van 16-16 in Wellington betrokke nie.

“Ons almal (in die 23-tal) moet Saterdag fisiek teen dié Bok-span wees. Ek is baie trots op my verdediging en probeer sover moontlik die voorbeeld daarmee stel,” sê Read.

“Wat jy voorlangs doen en die vermoë om met die regte intensiteit op te daag is wat toetse wen. Ons aanvaar die uitdaging en sien uit daarna.”