Michael Cheika, die Wallaby-hoofafrigter, het voorheen gesê hy sal die tuig neerlê sou die Aussies nie vanjaar verbeter op die span se vertoning by die Wêreldbeker-toernooi in 2015 nie.

Die Wallabies het vier jaar gelede in die WB-eindstryd teen die All Blacks verloor.

Die omstrede Cheika het Sondag daad by die woord gevoeg nadat Australië die vorige dag ’n rugbyles van 40-16 by Engeland gekry het in die spanne se halfeindstryd in Oita, Japan.

Hy het rugbyskrywers ná afloop van die wedstryd daarvan beskuldig dat hulle ’n gebrek aan deernis het toe hy oor sy toekoms uitgevra is.

Cheika het egter Sondag gesê dit was altyd sy plan om te groet.

“Ek wou nie daaroor uitwei nie (ná die wedstryd), maar ek het geweet wat die antwoord is. Dit was net eers nodig om met my vrou te gesels en ’n paar mense hoër op in te lig.

“Ek het alles op die spel geplaas. Ek het dit duidelik gemaak wat my besluit sal wees as ons nie (die toernooi) wen nie.

“So, ek is nie iemand wat een ding sê en ’n ander doen nie. Ek het dit geweet toe die eindfluitjie blaas, maar ek wou eers afkoel en met my mense praat.”

Cheika het voorts gesê hy het “geen verhouding” met Rugby Australië (RA) se uitvoerende hoof, Raelene Castle, of die voorsitter, Cameron Clyne, nie.

“Dit is geen geheim nie. Ek het sit nie langs dieselfde vuur as die uitvoerende hoof of die voorsitter nie.”

Hy het in 2014 die Wallabies se leisels geneem toe Ewen McKenzie uit die bloute bedank het, net meer as ’n jaar voor 2015 se WB-toernooi.

Die Nieu-Seelander Dave Rennie, voormalige afrigter van die Waikato Chiefs en huidige breier van die Glasgow Warriors, word reeds ’n geruime tyd in die Australiese media as ’n moontlike opvolger vir Cheika genoem.

Eddie Jones het ná die Rose se oortuigende vertoning gesê Engeland het nog nie sy beste rugby gespeel nie.

“Ons wil net aanhou om onsself uit te daag. Die uitdaging is nou om weekliks te verbeter.

“Hoe verbeter elke individu en hoe verbeter ons as ’n span? Dit is by WB-toernooie waaroor dit gaan,” het die Engelse breier gesê.

Engeland speel Saterdag in Jokohama in die eerste halfeindstryd teen die All Blacks.

“Jy gaan van die kwarteind- na die halfeindronde en dit (’n halfeindstryd) is waarskynlik die taaiste wedstryd in die toernooi, want almal speel hulle tenks leeg om in die eindstryd te kom.

“Dit is vanselfsprekend ’n groot week vir ons.”

Jones was in sy noppies met die wyse waarop Engeland die Wallabies se vroeë aanslag afgeweer het.

“Ek was werklik beïndruk met die spelers se vermoëns en konsentrasie.

“Dit uitslag was wonderlik en sê ook baie van Owen (Farrell) as kaptein.”

– Reuters, theguardian.com, rugby.com.au