Nieu-Seeland se losskakel, Richie Mo’unga, het sy innerlike “Dora the Explorer” opgediep toe hy die Springbok-vleuel Cheslin Kolbe op die dekverdediging kort voor die doellyn uitgeduik het.

Daardie stukkie spel is deur die All Black-breier, Steve Hansen, as ’n keerpunt bestempel in sy span se sege met 23-13 oor Suid-Afrika in die spanne se Wêreldbeker (WB)-openingswedstryd Saterdag in Jokohama.

Die Bok-vleuel Kolbe het ’n bres geslaan en Mo’unga, wat die laaste verdediger is, vir ’n oomblik met deurmekaar voete gelaat toe hy eers na binne, dan na buite, toe weer na binne afgetrap het. Kolbe het toe besluit om rieme hoek toe neer te lê, maar Mo’unga het hom agterna gesit en uitgeduik.

Mo’unga sê hy het ietwat rigting verloor toe die Springbok met sy dartellopie begin het. Amper soos “Dora the Explorer” – ’n tekenprentkarakter wie se avonture in die kinderprogram kinders oral in die wêreld vermaak.

“Ek het myself, ’n bietjie soos Dora the Explorer, bevind waar ek nie geweet het wat aangaan nie. Hy het my aan die binne én die buitekant geklop gehad,” sê die 25-jarige Crusaders-losskakel.

“Hy het besluit om vir die hoekie te gaan, wat my gebaat het en ek het ’n tweede asem geskep en hom agternagesit. Gelukkig het ek betyds daar uitgekom,” sê hy.

Hansen sê daardie duikslag vroeg in die tweede helfte was ’n “wedstrydwenner, of naby daaraan.”