Jan Ellis, die grootste rugbyheld wat Namibië nog opgelewer het, het “bont vingers” gehad en sy hande was “ ’n wonderwerk”.

Só praat Frik du Preez, Suid-Afrika se Rugbyspeler van die Eeu, oor Ellis, saam met wie hy in baie toetse vir die Springbokke gespeel het.

In daardie jare het Namibië – wat Saterdag in Japan in die Wêreldbeker-toernooi teen die Bokke speel – nog as Suidwes-Afrika bekend gestaan.

Ellis was destyds as die “Rooi Duiwel” bekend. En dit was nie net omdat hy rooierige hare gehad het nie.

Wanneer Jan Ellis begin hardloop het, is hy moeilik gestuit. Foto: South Africa’s Rugby Legends

Hy was glo ’n regte korrelkop, wat gereeld met ander spelers en veral met beamptes vasgesit het.

Hy word deur oud-spanmaats as ’n alleenloper beskryf, wat nie graag onthale bygewoon het nie.

“Op toer gaan ek vroeg bed toe nes ek by die huis sou gedoen het en die enigste vorm van rekreasie wat my kan ophou, is ’n goeie film of ’n interessante boek,” het Ellis op ’n keer gesê.

Tog was die “bruusk” en “ongeduldige” speler by sy spanmaats gewild en word hy deur Du Preez as een van die beste Bokke van alle tye beskou.

“Elke slag as ek daardie paar bont vingers hier naby my gesien het, het ek geweet daar’s nou dinge aan die kom. Die man se hande is mos ’n wonderwerk. As jy hulle so bekyk, lyk hulle nes twee geslagte hoenders. Maar, boeta, kan hy hulle gebruik!” sê Du Preez.

“Laat ek jou reguit vertel, daar was in my speeljare nie beter nie en ek glo nie ons sal gou weer iets soos dié klong kry nie. Hoe en waar hy soms die bol in die hande gekry het, weet ek nie. Maar as jy sy hande bekyk – en ek ken daardie hande goed – dan weet jy waarom hy so goed gehanteer het.”

In sy speeldae was dit ’n bekende toneel om Ellis te sien hardloop met die bal in die een hand.

Daar was mense wat gedink het hy speel té los, maar Du Preez raak sommer omgekrap as hy dit hoor.

“Ek het hom as Springbok ’n klomp drieë sien druk wat geen ander speler sou gekry het nie. Hy het alles gehad – hande, voete, vaart, voorgevoel en krag. Wat meer wil jy hê?” vra Du Preez.

Ellis het in 38 toetse vir die Bokke gespeel, waarin hy sewe drieë gedruk het. In die altesaam 74 keer wat hy vir die Bokke in aksie was, het hy 32 drieë gedruk.

Twee daarvan was op 31 Januarie 1970 teen die Britse Barbarians op Twickenham in Londen, Engeland.

Gerhard Viviers, wat destyds ’n kommentator was, beskryf die tweede een in sy boek Rugby agter die doringdraad. .

“(Johann) Van der Merwe het die beweging begin, (Mike) Lawless het handjie bygesit en Jan Ellis het gehardloop. As Jan Ellis hardloop, lyk dit of hy lui-stadig beweeg, maar in werklikheid is dit vinnige, lang, kragtige hale. Nieteenstaande die feit dat hy dertig treë moet hardloop, was daar nie veel kans om meer as net Jannie, Jannie, Jannie in die kommentaarhokkie te sê nie.

“Hy het die een Barbarian ná die ander met slim rigtingveranderings geklop en weer was dit in ’n drie in die hoek,” skryf Viviers.

Ellis was ’n fiksheidsfanatikus. Hy het aan die rugbyskrywer Chris Greyvenstein vertel dat hy elke jaar op sy verjaardag, 5 Januarie, begin oefen het.

In die oggend het hy twee myl gaan hardloop en ná werk (hy was ’n sakeman) was dit vier myl.

Ellis het in Windhoek gewoon en hy het daar in die heuwels geoefen.

“Daar is nie iets soos draf nie, dis ’n ware uithoutoets teen die stophorlosie,” het Ellis, wat dan ook groot klippe rondgedra het, gesê.

Jan Ellis in aksie in die wedstryd in 1970 teen die Britse Barbarians waarin hy twee drieë gedruk het. Foto: Rugby agter doringdraad

Iewers het ’n spotprentekenaar destyds ’n prent geteken wat in die geheue vassteek: Dit was van ’n Boesman wat oor ’n duin hardloop en dan staan daar iemand en vra: “Is dit Jan Ellis?”

Die Bokke se lostrio het daardie tyd gereeld uit Jan Ellis, Piet Greyling en Tommy Bedford bestaan. Nou was Jan kwansuis die een wat rondgehardloop het (partykeer oor ’n skrumskakel wat ’n duikaangee gedoen het se rug), Greyling was die een wat die donkiewerk gedoen het en Bedford die skakel met die agterlyn.

Jan Ellis en Johan Spies sukkel om hulle tasse toe te kry op toer in Australië in 1971. Foto: Die Onoorwinlikes

Maar soos Du Preez sê, het Ellis ook losballe gewen en hy kon jou met sy verdediging seermaak. Vra maar net die Walliese losskakel Barry John, wie se toer saam met die Britse en Ierse Leeus in 1968 deur Suid-Afrika deur Ellis beëindig is.

“Ek het ’n fout gemaak. Ek het nie met Ellis se verskriklike vaartversnelling en vasberadenheid rekening gehou nie. Ek was van sy skaduwee bewus, van sy asem en sy donderende voete. Ek het instinktief versnel en toe skielik spoed verminder om hom te probeer verwar. Dit het amper gewerk,” skryf John in sy outobiografie.

Ongelukkig vir hom het Ellis “een vinger” by sy trui se kraag ingehaak gekry en hom omgepluk. John het gehoor hoe die bene kraak toe hy op sy skouer val.

Dawie de Villiers, wat die kaptein was in die meeste toetse waarin Ellis gespeel het, sê dié flank kon “soos enige agterspeler met die bal hardloop en netjies systap”.

En dr. Danie Craven, wat vir jare Suid-Afrika se rugbybaas was, het gesê “net ’n baie begaafde speler” kan uitstyg as hy nie vir een van die groot rugbyunies in die land speel nie.

Toe Ellis nog vir Suidwes gespeel het, het dié land nog in Suid-Afrika se Curriebeker-reeks meegeding. Die Rooi Duiwel het, terloops, soms ook vir die Biltongboere (soos Suidwes ook bekend was) pale toe geskop.

Die Springbokke verwonder hulle in 1971 in Australië aan ’n koalabeertjie op ’n hond se rug. Jan Ellis is in die middel met die blokkiestruitjie. Die ander Bokke is van links Piston van Wyk (hoed), Piet Visagie, John Williams, Andy van der Watt en Robbie Barnard. Joggie Viljoen en Tonie Roux (witkop) kniel voor regs. Foto: Die Onoorwinlikes

Ellis het eers in die laaste twee jaar van sy speeldae (1975 en 76) Suidwes verlaat en vir Transvaal (nou die Goue Leeus) gaan speel.

“Sy vasbeslotenheid en talent het hom ’n Springbok laat word,” het Craven gesê.

Ellis is op 22 Desember 2000 in sy maag geskiet in ’n rooftog by sy petrolstasie net buite Rayton in Noordoos-Gauteng.

Een van sy niere moes verwyder word in die noodoperasie wat op hom uitgevoer is, maar die Rooi Duiwel het oorleef.

Hy is op 5 Februarie 2013 in die ouderdom van 71 weens kanker oorlede.

Bronne: The Chosen – Andy Colquhoun en Paul Dobson; Rugby agter doringdraad – Gerhard Viviers; Frik du Preez Rugbyreus – Leon Gouws; Springbokkaptein Dawie de Villiers – Roelf Theunissen; The Craven Tapes – Keith Clayton en Chris Greyvenstein; Sport24.co.za.