Die Franse slot Sébastien Vahaamahina het sy uittrede uit internasionale rugby aangekondig 24 uur nadat hy in ’n Wêreldbeker (WB)-kwarteindstryd teen Wallis van die veld af gestuur is.

BBCSport berig Vahaamahina het die aankondiging Maandag op sy 28ste verjaardag gemaak.

Die Hane was Sondag in Oita met 19-10 voor toe Vahaamahina in die 49ste minuut ’n breinfloute beleef het deur Wallis se flank Aaron Wainwright in ’n losgemaal eers om die nek beet te kry en toe met die elmboog teen die nek en wang te slaan.

Sy rooikaart het beteken Wallis kon die agterstand teen 14 teenstanders uitwis en het uiteindelik die kragmeting net-net met 20-19 gewen vir ’n plek teen Suid-Afrika in Sondag se halfeindstryd.

“Dit is moeilik, baie moeilik vandag, selfs meer so omdat ek dit maande terug reeds besluit het, maar dit was my laaste wedstryd vir Frankryk,” sê die Clermont Auvergne-speler in ’n verklaring.

“Ek het nie vooraf my uittrede in die openbaar bekend gemaak nie, want dit is nie hoe ek dinge doen nie. Die mense wat deur hierdie besluit beïnvloed word weet reeds die afgelope paar maande daarvan: Jacques Brunel (Franse afrigter), Franck Azema (Clermont-afrigter) en ook ’n groepie spelers.”

Vahaamahina het sy 46ste toets in die nederlaag teen Wallis gespeel.

“Ek het eenvoudig beheer verloor. Ek berou my optrede. Ja, dit was spontaan en buite beheer, maar die feit is dat ek verantwoordelikheid moet aanvaar. Ek is die enigste een wat die skuld moet kry.”

Guilhem Guirado, die kaptein, en Louis Picamoles, die mees ervare lid van Frankryk se groep by die toernooi, het ook ná afloop van die nederlaag hul uittrede aangekondig.

– Sportredaksie