’n Kort interaksie in die afgelope Vrydag se Wêreldbeker-wedstryd tussen Samoa en Ierland het die muur waarin rugbybase hulle vasloop om die spel veiliger te probeer maak, in ’n neutedop opgesom.

Samoa se Seilala Lam het pas ’n geelkaart gekry nadat sy skouer ’n gebukte Jacob Stockdale teen die kop getref het. Dit was die soveelste keer dat die Samoane in dié WB-toernooi gestraf word.

“Wat wil jy hê moet ons doen,” wou Samoa se kaptein, Jack Lam, van die skeidsregter, Nic Berry, weet.

“Duik laer,” was die Australiese blaser se eenvoudige antwoord.

Só eenvoudig behoort dit te wees, en vir baie spelers is dit.

Ander meen die nuwe riglyne is onmoontlik om toe te pas in ’n kontaksport wat teen só ’n vinnige tempo gespeel word en dit bemoeilik konsekwentheid.

Die agtergrond is dat duisende rugbyspelers op elke vlak harsingskudding opdoen. Dis ’n breinbesering met ernstige nagevolge en die meeste daarvan het hul oorsprong in duikslae.

Meer spesifiek: As ’n speler wat die duikslag uitvoer regop is en sy teenstander hard bo sy bors duik, is daar ’n ver beter kans op harsingskudding as wat andersins die geval sou wees.

Die uiteinde van die navorsing was Wêreldrugby se “hoogvat-raamwerk” – ’n proses van stappe wat ’n skeidsregter in berekening moet bring wanneer hy ’n moontlike gevaarlike duikslag analiseer.

TV-kykers en ondersteuners in die stadion kry almal ’n insig op sy interaksie met die TV-skeidsregter.

“Was dit hoog? Was daar impak teen die kop? Was daar ’n poging om arms te gebruik? Hoe groot was die impak? Was daar enige versagtende omstandighede (die speler wat geduik word wat buk of die een wat die duikslag uitvoer wat gly of gestamp word)?”

Dit moet nou die bene wees wat geduik word. Spelers gaan van voor af opgevoed moet word.

Soos die afgelope drie weke gesien kon word, is die uitkoms dikwels ’n rooikaart. In vorige WB-toernooie was daar gemiddeld net meer as twee rooikaarte per toernooi. In Japan is daar reeds sewe rooikaarte met die uitspeelrondes wat nog voorlê.

In vroeër dekades was die beginsel van ’n duikslag om ’n teenstander grond toe te bring met ’n tradisionele “rugby-duikslag”.

Dis mettertyd vervang met die konsep van die “hit” – ’n benadering wat daarop gemik is om teenstanders agteruit te duik en die stryd om die voordeellyn te wen.

“Die spel verander onder ons neuse,” het Ian McGeechan, ’n voormalige senter vir Skotland en afrigter van die Britse en Ierse Leeus, ná die wedstryd tussen Ierland en Samoa gesê.

“Dit moet nou die bene wees wat geduik word. Spelers gaan van voor af opgevoed moet word.”

Van die kaarte was vir regstreekse kontak teen die kop met ’n skouer, wat tipies gebeur wanneer die arms nie in ’n duikslag gebruik word nie. Volgens die huidige reëls moes dit altyd ’n rooikaart gewees het, maar dis selde só toegepas.

Ander spelers het kaarte gekry nadat die speler wat die duikslag gemaak het, sy teenstander eers teen die bors of skouer getref het, maar dan na bo gegly het om kontak met die kop te maak.

“Ek weet nie wat ’n speler wat die duikslag uitvoer veronderstel is om te doen wanneer sy teenstander só laag buk nie,” het die voormalige Ierse kaptein Brian O’Driscoll oor Lam se geelkaart gesê.

Hy het bygevoeg dat die speler wat die duikslag uitvoer slegs ’n breukdeel van ’n sekonde het as sy teenstander buk.

“Die plettervat gaan dalk uit die spel geroei moet word,” het O’Driscoll gesê.

Diegene wat kla oor “sentimeters” en “breukdele van sekondes” is onder ’n wanindruk.

Wêreldrugby, wat se plig is om spelers se welstand te bevorder, soek ’n fundamentele verandering van benadering – sodat ’n verandering van posisie dalk op ’n nuwe kontakpunt, wat nie gevaarlik is nie, kan uitloop.

Daar word gereeld tydens dié WB-toernooi gehoor hoe Franse skeidsregters vir spelers “Verander jou gedrag” sê.

Ondanks Wêreldrugby se beste bedoelings, is dit ’n moeilike pad – selfs vir diegene wat dit ondersteun.

Verlede seisoen is ’n proefreël in Engeland se tweede liga gebruik, waar duikslae bo die onderarms verbied is. Maar dit is middeldeur die seisoen afgeskaf omdat daar gevind is dat dit meer voorvalle van harsingskudding tot gevolg gehad het.

Die teorie was dat dit die uitvloeisel was van spelers wat hul middellyf voor kontak buig.

Ander kritici voer aan dat die baldraer gemaklik ’n drukaangee sal kan maak as spelers gedwing word om laer te duik.

Dis seker waar, maar diegene wat die uitwerking van harsingskudding van naby sien, sal moeilik oortuig word dat veilige spel ter wille van aantreklike rugby opgeoffer moet word. – Reuters