Amerika, wat al vir lank as die sluimerende reus van beroepsrugby beskou word, is slaggereed om op te staan en sy merk by die Wêreldbeker-toernooi in Japan te maak.

Die Eagles kon nie ’n wedstryd by die vorige WB-toernooi in Engeland wen nie, maar het sedertdien groot verbetering getoon.

Hulle het die Amerikas-rugbykampioenskap twee keer gewen en is vanjaar se Pasifiese Nasiesbeker-reeks net deur Japan geklop.

Amerika beskik oor ’n paar topklas spelers, wat in die Engelse Premierliga speel, soos die losskakel AJ MacGinty van Sale, die haker Joseph Taufete’e van Worcester en die stut Titi Lamositele van Saracens.

Die kerngroep spelers het ook danksy die begin van Major League Rugby in 2018 twee seisoene van plaaslike rugby agter die blad.

Die Eagles se haker James Hilterbrand dink hulle kan ’n paar verrassings lewer in die WB-toernooi. Foto: Getty Images

Die haker James Hilterbrand sê die Eagles kan vir ’n verrassing of wat sorg, al is hulle saam met Engeland, Frankryk en Argentinië in ’n moeilike groep ingedeel.

Hilterbrand het ook al vir die Western Force, Edinburgh en die Waratahs gespeel.

“Om van ’n hoërskoolveld na die Olimpiese oefensentrum in Colorado Springs te skuif, is ’n aanduiding van die vlak van hoe die spel in die beroepsera gegroei het,” sê hy.

“Amerikaanse rugby is nie meer die sluimerende reus, soos almal dit wil noem nie. Dit het ontwaak en dinge is aan die gebeur – ek dink die reus eet op die oomblik nog net ontbyt.

“Ons is nie sommer net ’n ondergeskikte rugbyland wat nie verdien om op die veld te wees en wat nie kan wen nie. Ons weet en ons glo dat ons kan wen.”

As Amerika in sy laaste Groep C-wedstryd teen Tonga kan wen, sal dit reeds as ’n suksesvolle toernooi vir die Eagles beskou kan word.

Hilterbrand wil egter nie verder vorentoe kyk as sy span se eerste wedstryd Donderdag teen Engeland nie.

“Ons het in elke wedstryd maar ’n opdraande stryd waarin ons moet probeer bewys dat ons kan wen, maar hopelik kan ons vir ’n verrassing of twee sorg,” sê hy.

– Reuters