Rugby is ’n globale sport. Dit is ook ’n beroepsport. Die gevolg is dat talentvolle spelers nie noodwendig in hul eie agterplaas gaan bly as hulle groter geld elders kan verdien nie.

Dít lei daartoe dat verskeie nasionale spanne deurspek is van spelers wat nie gebore is in die land wat hulle verteenwoordig nie. Sulke “verskuiwings” is ’n uiter omstrede brandpunt in wêreldrugby.

Van die 20 spanne wat aan die Wêreldbeker (WB)-toernooi deelneem, is daar slegs vyf – Argentinië, Georgië, Namibië, Rusland en Uruguay – wat uitsluitlik uit spelers bestaan wat in daardie land gebore is.

Wêreldrugby se adjunkvoorsitter, die legendariese Argentynse skrumskakel Agustín Pichot, het verlede jaar opslae gemaak toe hy ’n lys van die voorste internasionale spanne gedeel het, met die persentasie van daardie groepe wat nié in daardie land gebore is nie.

Hy is daarvan beskuldig dat hy die “vlamme van xenofobie aanblaas”.

In Ierland was daar groot opslae toe die Suid-Afrikaans gebore slot, Jean Kleyn, bo die Ierse veteraan Devin Toner vir Ierland se WB-groep gekies is.

Kleyn is een van vyf spelers in die Ierse span wat buite Ierland gebore is. Die span met die meeste “buitelanders” in sy geledere is Samoa, met 18 spelers wat nie op dié Suidsee-eiland gebore is nie.

Nieu-Seeland is die land met die meeste spelers wat internasionale rugby vir ander spanne as vir die All Blacks speel. ’n Volle 49 gebore Nieu-Seelanders speel internasionale rugby vir ander lande.