Brett Gosper, uitvoerende hoof van Wêreldrugby, sê streng optrede teen hoogvatte by die Wêreldbekertoernooi sal nie verander nie en die getal rooikaarte sal afneem sodra spelers hul gedrag verander.

Daar was sewe rooikaarte uitgedeel in die groepfase by vanjaar se skouspel in Japan. Daarteenoor het die groepfase by die toernooi in 2015 een rooikaart opgelewer en twee elk in 2007 en 2011.

Die meeste was vir duikslae waar daar kontak gemaak is met ’n teenstander se kop, iets wat Wêreldrugby oorgehaal is om uit die spel te verwyder weens die moontlikheid van harsingskudding en ander kopbeserings.

“As daar rooikaarte uitgedeel is, is dit weens die reusekwessie rondom spelers se welstand en vuilspel,” sê Gosper.

“Ons sal voortgaan om streng op te tree om spelers te beskerm en die rooikaarte sal afneem omdat die gedrag van spelers en afrigters mettertyd sal verander.

“Ons is bereid om kanse te waag met sommige uitkomste of debatte om te verseker ons polisieer dit behoorlik.”

Die Argentyn Tomás Lavanini het ’n rooikaart ontvang vir hierdie duikslag op Engeland se Owen Farrell. Foto: Getty Images

Die verlies van ’n speler weens ’n rooikaart kan ’n deurslaggewende invloed hê op ’n span se kanse van ’n sege, veral indien dit vroeg in ’n wedstryd gebeur.

Gosper sê maatreëls soos gebruik in Australiese rugbyliga, waar oortreders “op verslag” geplaas word maar op die veld bly, is reeds deur verskeie komitees oorweeg.

“Die gevoel is dit is reg om die span te straf ten spyte van die wanbalans wat dit dalk in die wedstryd tot gevolg kan hê,” sê hy.

“Sekere rugbyunies het sterk menings daaroor na albei kante, maar die gevoel is dit is een van die dinge wat die waardes van die spel handhaaf. Die speler asook die span moet daardie straf vat.

“Beslis, die rooikaarte is daar om die spelers te beskerm en ons glo gedrag, sowel as afrigting, is aan die verander om by hierdie nuwe realiteit aan te pas.”

* Bill Beaumont, Wêreldrugby se voorsitter, meen die vertonings van die skeidsregters het baie verbeter sedert die eerste naweek van die toernooi toe die beheerliggaam om verskoning gevra het vir die swak standaard van die beamptes.

Bill Beaumont, Wêreldrugby se voorsitter. Foto: Getty Images

“Ek dink die hantering van die wedstryde verloop goed. Ek dink die gebruik van die assistentskeidsregters op die kantlyn werk ook sover goed. So, beslis, ons is tevrede,” sê Beaumont.

Die skeidsregters vir die naweek se kwarteindronde is Dinsdag bevestig.

Die Springbokke kon nie op beter nuus as Wayne Barnes se aanstelling vir Sondag se kragmeting teen Japan in Tokio hoop nie, terwyl die Bloemfonteinse prokureur Jaco Peyper in Oita in Sondag se ander kwarteindstryd tussen Wallis en Frankryk in sy 50ste toets blaas.

Die Fransman Jérôme Garcès het die moeilike taak gekry om Saterdag se toets in Oita tussen Engeland en Australië te hanteer, met Wallis se Nigel Owens in beheer van die wedstryd tussen Nieu-Seeland en Ierland Saterdag in Tokio.

– Reuters, Sportredaksie