Rugbykoors loop hoog in Jokohama, met al die 72 327 kaartjies vir Saterdag se Wêreldbeker-groepwedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks in die International-stadion wat uitverkoop is.

Philip Wilkinson, senior kommunikasiebestuurder van Wêreldrugby, het aan Netwerk24 bevestig daar sal nie plek vir ’n muis in die stadion wees nie, waar een van die halfeindstryde op 27 Oktober en die eindstryd van die toernooi ook later op 2 November plaasvind.

Jokohama is aan die suide van Tokio en sal in totaal sewe Wêreldbeker-wedstryde aanbied.

Jokohama het Vrydagaand van rooi-en-wit-truie gewemel toe Japan in die openingswedstryd ’n onoortuigende oorwinning van 30-10 oor Rusland in Tokio behaal het.

Pieter-Steph du Toit in ’n ligte luim by die Springbokke se kapteinsoefening. Dié steelkant-flank sal een van die Bokke se sleutelspelers teen Nieu-Seeland wees. Foto: Getty Images

Die voormalige Bloemfonteiner Lappies Labuschagné het een van die wenspan se drieë behaal.

Plaaslike inwoners het in restaurante en kroeë na die wedstryd gekyk waar die bier lekker gevloei en die gasheerspan in die toernooi groot ondersteuning geniet het.

Verskeie rugbyondersteuners, onder meer van die All Blacks en die Bokke, is besig om na Jokohama te stroom met ’n fees-atmosfeer wat hier heers.

Die Bokke en All Blacks is Saterdag ’n 99ste keer slaags. Die All Blacks het 58 van dié toetse gewen, vier was gelykop en die Bokke was 36 keer aan die wenkant.

As Suid-Afrika wen, sal hy die eerste span word om Nieu-Seeland drie keer in ’n Wêreldbeker-toernooi te klop.

Die Bokke het die All Blacks in 1995 se eindstryd en in 1999 se uitspeelstryd om die bronsmedalje geklop.

’n Reuse-opblaasrugbypop druk ’n drie buite ’n treinstasie in Jokohama, wat behoorlik deur rugbykoors beetgepak is.Foto: AP

Rassie Erasmus, afrigter van die Bokke, was in die 1999-stryd as ’n speler betrokke.

Die All Blacks het die Bokke in 2003 se kwarteindstryd en 2015 se halfeindstryd uitgeskakel.

Siya Kolisi, kaptein van die Bokke, het intussen gesê wyle Chester Williams was vir hulle as ’n span inspirerend.

’n Afbeelding van die gesig van Williams sal Saterdag op die nommers agterop die Bokke se truie wees.

“Ek was baie jonk toe hy gespeel het en het hom nooit sien speel nie,” het Kolisi gesê.

“Ek dink ek was een jaar oud toe Suid-Afrika die Wêreldbeker in 1995 gewen het. Maar vir ons was dit ’n era wat die deure vir ons oopgemaak het.

“Ons waardeer almal van hulle. Met die afsterwe van James Small het ons hom ook op die rug teen Australië gehad.

“Ons kyk op na die span van 1995, want ons voel hulle het dinge in Suid-Afrika vir ons verander. Ons sal altyd respek vir hulle hê. “

Williams (49), een van die Bokke se sterre toe hulle die toernooi die eerste keer in 1995 gewen het, is twee weke gelede aan ’n hartaanval dood.