Suid-Afrika regeer nou die rugbywêreld. Die Springbokke is meer as net die Wêreldbeker-kampioene.

Dit is die mening van die voormalige Engelse toetsspeler Stuart Barnes, nadat die draers van groen en goud Saterdag Engeland met 32-12 in die WB-eindstryd oordonder het.

Volgens die voormalige losskakel, wat deesdae as spesialis-kommentator vir Sky Sports diens doen, het die magsbalans in wêreldrugby na dese geskuif en berus dit nie meer by Nieu-Seeland nie, maar by Suid-Afrika, selfs al het albei spanne nou drie WB-titels agter hul naam.

Barnes wys daarop dat Suid-Afrika nie in 1987 en 1991 aan die WB-toernooi deelgeneem het nie, toe dit onderskeidelik deur die All Blacks en Australië gewen is.

Weens die politieke beleid van apartheid, is die Bokke in die jare deelname aan die toernooi ontsê.

Dit beteken Suid-Afrika se wenratio in die toernooi is hoër as die All Blacks s’n, aldus Barnes op Twitter..

In ’n onderhoud met Sky Sports het die oudspeler sy mening herhaal.

Ons praat altyd oor Nieu-Seeland hoe hy ’n pasaangeër in moderne rugby is, maar Suid-Afrika het hom nou verbygesteek as die toonaangewende span in die wêreld.
Stuart Barnes

“Dis baie interessant, is dit nie? Ons praat altyd oor Nieu-Seeland hoe hy ’n pasaangeër in moderne rugby is, maar Suid-Afrika het hom nou verbygesteek as die toonaangewende span in die wêreld.

“Die oorwinning (Saterdag oor Engeland) gee hom net soveel WB-titels as die All Blacks, maar onthou net, die Bokke het nie in 1987 en 1991 aan die kompetisie deelgeneem nie,” het Barnes verduidelik.

“Suid-Afrika het dus drie WB-titels in sewe probeerslae gewen. Dis ’n verbluffende stukkie statistiek.”

Nieu-Seeland het 49 oorwinnings in 56 WB-wedstryde behaal, ’n wenpersentasie van 87,5. Dis beter as Suid-Afrika se 83,7%, Australië se 79,2% en Engeland se 72%. - Reuters