Samoa het ’n trotse tradisie in Wêreldbeker-toernooie om meer gesiene spanne se lewe te versuur en sal daarom fyn dopgehou word in Dinsdag se Groep A-wedstryd teen Rusland in Koemagaja.

Dit blyk ’n gegewe te wees dat Ierland dié groep gaan wen, maar met die oog op die tweede plek kan Skotland en Japan albei naels kou oor hul afspraak met die Samoane, afhangende van wat die eilandbewoners Dinsdag wys.

Rusland het hulle in ’n nederlaag van 10-30 teen Japan as ’n ongemaklike teenstander onderskei, maar in meeste aspekte van die spel min om die lyf gehad.

Samoa, wat 16de op Wêreldrugby se ranglys (vier plekke bo Rusland) is, behoort hierdie kragmeting te wen.

Steve Jackson, afrigter van Samoa, sê sy span is oorgehaal om vir die eerste keer sedert 1995 (toe hulle as Wes-Samoa gespeel het) die kwarteindronde van die WB-toernooi te haal. Die Samoane het in die WB-toernooi van 1999 ook met die gasheerland, Wallis, in ’n groepwedstryd afgereken.

“Ons het uit die staanspoor gesê dat ons nie net in groepwedstryde wil speel nie. Ons wil verder vorder. Elke wedstryd sal soos ’n Wêreldbeker-eindstryd benader word,” het Jackson op ’n nuuskonferensie gesê.

“Baie van die spanne het die afgelope paar dae senuagtig voorgekom en ons boodskap aan die spelers was om hulself te gaan uitleef.”

Die Samoane kan ’n bietjie inspirasie put uit Fidji se goeie vertoning in hul nederlaag van 21-39 teen Australië.

“Een ding wat jy sal vind van spanne uit die Suidsee-eilande, is dat hulle gaan aanhou om vir jou te kom. Ons sal aanhou veg. Ons wil altyd ons bes lewer en jy gaan niks anders as dit teen Rusland en in die res van die toernooi sien nie,” sê Jackson.

“Ons wil hê mense moet hierdie Samoaanse span soos dié van 1991 en 1995 onthou, maar begryp ook dat dit in die beroepsera baie moeiliker is om mededingend te wees. Ons kon nie vir ’n beter verhoog as die WB-toernooi vra vir Samoa om weer sy stem dik te maak in die rugbywêreld nie.”

Terwyl die Samoane vernaam aan hul goeie spel met die bal in die hand geken word, het Jackson ook ’n stewige pak voorspelers tot sy beskikking. Hul skrumwerk is baie goed, maar dieselfde kan nie van die lynstane gesê word nie.

Anders as in die verlede is hulle ook ’n gedissiplineerde span.

Die Russe sal nie fisiek terugstaan nie en hulle kan dalk poog om daardeur ’n houvas op die wedstryd te kry.

Samoa se vaart en beter vaardighede behoort egter die deurslag te gee. 

* Die spanne is:

Rusland: Vasily Artemyev (k), German Davydov, Vladimir Ostroushko, Dmitry Gerasimov, Kirill Golosnitskiy, Yury Kushnarev, Vasily Dorofeev, Nikita Vavilin, Tagir Gadzhiev, Vitaly Zhivatov, Bogdan Fedotko, Andrey Ostrikov, Kirill Gotovtsev, Stanislav Selskii, Valery Morozov. PLAASVERVANGERS: Evgeny Matveev, Andrei Polivalov, Azamat Bitiev, Andrey Garbuzov, Anton Sychev, Dmitry Perov, Ramil Gaisin, Vladislav Sozonov.

Samoa: Tim Nanai-Williams, Ah See Tuala, Alapati Leiua, Rey Lee-Lo, Ed Fidow, Tusi Pisi, Dwayne Polataivao, Afaesetiti Amosa, TJ Ioane, Chris Vui (k), Kane Le’aupepe, Teofilo Paulo, Michael Alaalatoa, Motu Matuu, Logovii Mulipola. PLAASVERVANGERS: Ray Niuia, Paul Alo-Emile, Jordan Lay, Senio Toleafoa, Josh Tyrell, Melani Matavao, AJ Alatimu, Henry Taefu.

Skeidsregter: Romain Poite (Frankryk)

Assistent-skeidsregters: Jerome Garces (Frankryk) en Brendon Pickerill (Nieu-Seeland)

TV-skeidsregter: Graham Hughes (Engeland)