Samoa se rugbyspelers sal uit respek vir die gasheerland hul tradisionele tatoeëermerke met lyfpakke bedek gedurende die Wêreldbeker-toernooi in Japan.

In Japan word tatoeëermerke al lank met lede van die jakoeza-misdaadsindikate verbind.

Toeriste met tatoeëermerke word soms verbied om gimnasiums, spa’s of tradisionele warmwaterbron-oorde te besoek.

Vir die Samoane is tatoeëermerke egter ’n fundamentele deel van die Stille Oseaan-identiteit tuis.

“Waar ons ook al heen gaan, moet ons die kultuur van die land respekteer. Ons het ook ons eie kultuur, maar ons is nie nou in Samoa nie,” het Va’elua Aloi, Samoa se spanbestuurder, gesê.

“Party oefenplekke laat ons toe om ons tatoeëermerke wys en ander nie. Vir sulke plekke het ons lyfpakke om ons tatoeëermerke mee te bedek.”

“Die ekstra ‘velle’ is egter net vir wanneer ons na die swembaddens toe gaan. By ons oefeninge kan ons ons gewone klere dra.”

’n Paar oë sal moontlik in Japan rek as die man heel links só rondstap. Wat deel is van die Samoaanse kultuur, is nie noodwendig in Japan aanvaarbaar nie. Foto: Getty Images

Wêreldrugby het spelers en ondersteuners al verlede Desember aanbeveel om hul tatoeëermerke gedurende die toernooi te bedek.

Steve Jackson, Samoa se afrigter, het toe met Japannese kultuurkenners gesels om seker te maak sy spelers respekteer die plaaslike kultuur.

“Dis (tatoeëermerke) heeltemal normaal in ons kultuur, maar ons is respekvol vir die Japannese manier van doen,” het Jack Lam, Samoa se kaptein, gesê.

“Ons sal seker maak dat wat ons wys aanvaarbaar sal wees.”

Samoa speel op 24 September teen Rusland. Skotland, Japan en Ierland is ook saam met hulle in dieselfde groep.

Die All Black-skrumskakel Aaron Smith het Dinsdag op ’n nuuskonferensie gesê dat hulle ook hul tatoeëermerke bedek wanneer hulle die spa’s in die hotelle waarin hulle tuisgaan, besoek.

– Reuters