Al Suid-Afrika se afrigters moet die geleentheid gegun word om aansoek te doen vir die Springbok-breierspos.

Dís die pleidooi van die voormalige Springbok-slot Schalk Burger senior, te midde van gerugte dat die huidige Bok-verdedigingsafrigter, Jacques Nienaber, Rassie Erasmus gaan opvolg. Erasmus gaan hom vorentoe toespits op sy pos as die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby, maar steeds nou by die Bokke betrokke wees.

Burger het op Twitter die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NSRU) se benadering, om verskeie afrigters te nooi om aansoek te doen vir die All Black-hoofafrigterspos, geprys.

“Dís hoe jy ’n nasionale afrigter aanstel. Neem kennis,” het hy getwiet.

Burger het in nóg ’n twiet daarop uitgebrei: “Ons nasionale beheerliggaam moet inklusief vir alle afrigters wees ... dis ’n keuringsproses en volgens die grondwet moet die posisie geadverteer word ... Ons moet die standaard hoog stel nadat ons (die Wêreldbeker) gewen het, want almal kom vir ons.”

Luidens berigte is Jacques Nienaber die sterk gunsteling om vir Rassie Erasmus as Springbok-afrigter op te volg.Foto: Getty Images

Terwyl daar sterk bespiegel word dat Nienaber as Erasmus se opvolger gesalf is, het die NSRU 26 afrigters genooi om vir die All Black-pos aansoek te doen. Ian Foster, ’n hulpafrigter op die huidige spanbestuur, en die Crusaders se afrigter, Scott Robertson, is straks die voorste aanspraakmakers om vir Steve Hansen op te volg.

“Vergeet daarvan dat ons die Wêreldbeker gewen het. Kom ons hou by die proses,” het Burger Vrydag gesê toe hy oor sy uitsprake op sosiale media uitgevra is.

“Waarom sal ons afrigters hier bly as hulle nie tot in die binnekring kan kom nie? ’n Mens wil mos hê almal moet kan aspireer (om die Bok-hoofafrigterspos te beklee).”

Nienaber het wel ’n reputasie as een van die voorste verdedigingsafrigters ter wêreld en is vir meer as ’n dekade al Erasmus se hoofluitenant.

In hul tyd by die Stormers het Kaapse Superrugby-span bitter min drieë afgestaan. By die WB-toernooi het die Bokke in hul sewe wedstryde slegs vier drieë afgestaan, wat Nienaber se aanspraak op die breierspos verder versterk. Sy aanstelling sal ook vir kontinuïteit sorg en gegewe hoe naby hy aan Erasmus is, vir ’n soomlose oorgang sorg.

Erasmus het nog nie kommentaar gelewer oor wie sy opvolger kan of gaan wees nie.

Burger wys daarop dat Nienaber nie ervare is in die rol van ’n hoofafrigter nie en dat rugby tussen nou en die volgende WB-toernooi gaan verander. Die klem gaan nie noodwendig op verdediging wees nie.

“In Suid-Afrika is daar ’n geskiedenis van prosesse wat nie gevolg word nie,” sê hy.

“Dit gaan oor rugby se welstand op die lang termyn, prosedure volg en dat almal glo daar’s vir hulle plek.

“Spelers verlaat die land nie net oor geld nie. Hulle is keelvol vir hoe rugby in sy totaliteit bestuur word.”

* Schalk se twiets:

https://twitter.com/skalabrak/status/1191961615626883072

https://twitter.com/skalabrak/status/1191954722464452609b